Central SA
Noordwester in hof weens bedrog, korrupsie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:35 Sun, 16 Feb 2025

’n Man van Noordwes sal Maandag (16/2) in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie.
Die verdagte (44) is Donderdag (13/2) in hegtenis geneem as deel van ’n geheime operasie wat deur die eenhede vir georganiseerde en handelsmisdaad in Rustenburg uitgevoer is, sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder.
“Die inhegtenisneming volg op ’n ondersoek wat vroeër vandeesmaand begin het, na aanleiding van ’n klag van ’n dokter in Thulamahashe, Mpumalanga.”
Volgens Myburgh het die klagte betrekking op ’n bedrieglike siekbrief wat in Desember deur ’n werknemer van ’n private sekuriteitsmaatskappy by ’n werkgewer ingedien is.
Bedrieglike siekbrief
Verdere ondersoek na die aangeleentheid het gelei tot die identifisering en inhegtenisneming van die persoon wat verantwoordelik was vir die uitreiking van die bedrieglike siekbriewe.
Die polisie het ook beslag gelê op verskeie vervalste siekbriewe wat na bewering deur verskeie dokters uitgereik is.
In nog ‘n saak van bedrog staan twee voormalige Noordwes-poskantoorkassiere, Dibueng Tshabang (38) en Rachel Mosito (51), tereg op aanklagte van bedrog nadat hulle in hegtenis geneem is vir die verduistering van meer as R600 000 van die Lethabong-poskantoor, het Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.
Die twee het op Vrydag hul eerste verskyning in die Tlhabane-landdroshof gemaak, waar borgtog van R3 000 aan hulle toegestaan is. Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige kommersiële misdaad het hulle die vorige dag in hegtenis geneem.
Die Lethabong-poskantoor. Foto: Facebook
Volgens Gunya het die misdaad aan die lig gekom ná ‘n ondersoek dat Tshabang en Mosito tussen 2020 en 2021 geld, wat vir Sassa-begunstigdes bedoel was, wanbestee het.
Hulle sou geld onttrek wat bedoel was vir betalings en na bewering enige oorskietbedrae vir persoonlike gebruik in hul sak steek. Hulle sal ook bykomende geld van die poskantoor eis om die gesteelde bedrae te dek.
Die teenstrydighede in die poskantoor se rekords het die ondersoek aangespoor. Die saak is tot 3 April uitgestel vir hul eerste verskyning in die handelsmisdaadhof. Die Valke en die Direkteur van Openbare Vervolging in Noordwes het die inhegtenisnemings verwelkom en beklemtoon hoe belangrik dit is om sulke bedrieglike aktiwiteite aan te spreek.
OFM Nuus cg