Central SA
Agtjarige van Noord-Kaap beleef eerste skooldag danksy polisie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:40 Fri, 14 Feb 2025
![Agtjarige van Noord-Kaap beleef eerste skooldag danksy polisie Agtjarige van Noord-Kaap beleef eerste skooldag danksy polisie | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/a8e7f0f3-02fb-4ea2-bb66-27d1feaba843.png?crop=0,2,474,269)
’n Agtjarige kon vanjaar vir die eerste keer skool bywoon, danksy die toegewyde pogings van Noord-Kaapse polisiebeamptes.
Die Belmont-polisiekantoor se eenhede vir sigbare polisiëring en maatskaplike misdaadvoorkoming, het die meisie op 16 Maart tydens hul roetinepatrollies van plase ontmoet, sê lt.kol. Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Die meisie het toe by haar ouma en oupa op ’n plaas buite Belmont gewoon. “Die beamptes het vasgestel dat sy nie ’n geboortesertifikaat gehad het nie en alles in hul vermoë gedoen om haar te help om een te kry.
Die polisie het baie positiewe reaksie gekry op sosialemediaplatforms ná hierdie goeie daad van hulle.
“Deur die loop van die jaar het hulle gekoördineer met verskeie staatsdepartemente, insluitend gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, onderwys en binnelandse sake, saam met Sassa op Douglas, om te verseker dat die nodige papierwerk afgehandel is.”
Volgens Kock het hulle ook gehelp om haar vir die skooljaar in te skryf aan ’n skool op Hopetown, waar sy nou by haar tannie woon.
Kock sê hoewel sulke gevalle skaars is, “sal hulle altyd bereid wees om te help”.
Nuwe haarstyl
Hy sê daar is ook verseker dat die meisie alles het wat sy sou nodig hê om haar skoolloopbaan te begin, insluitend skoolklere en skryfbehoeftes. “Boonop het ’n plaaslike haarkapper haar met ’n nuwe haarstyl bederf.”
Die beamptes – ao. Glenda Qashu, sers. Lawrence Mogorane en konst. Lerato Makapela – het die meisie op haar eerste skooldag op 10 Februarie vergesel.
Veiligheid verseker
Kock sê die Belmont-polisie monitor steeds die meisie se welstand en vordering by die skool. “Weens haar status as minderjarige word baie van die inligting oor haar vertroulik gehou om haar privaatheid te beskerm. Ons wil haar veiligheid verseker.”
Die polisiebestuur loof die beamptes van Belmont vir hul edele optrede om met die meisie se behoeftes te help en die ekstra myl te stap. Hulle het ook dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat betrokke is by die verbetering van die jong meisie se lewe en toekoms.
OFM Nuus cg