On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Valentynsdans beplan om kindertehuis in Kimberley by te staan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Fri, 14 Feb 2025

Valentynsdans beplan om kindertehuis in Kimberley by te staan | News Article
Kinders van die Helen Bishop Ortopediese Nasorgtehuis is deur die William Humphreys-kunsgalery op ’n uitstappie. Foto: Facebook

’n Geldinsameling word vir ’n tehuis in die Noord-Kaap gereël, aangesien die welstand van sy inwoners ernstig in gedrang is weens gebrekkige subsidiëring.

Die veiligheid en welstand van die 61 inwoners van die Helen Bishop Ortopediese Nasorgtehuis in Kimberley is weer in gedrang weens ’n maandelikse tekort van R150 000.

Van die personeellede tydens verlede jaar se Valentynsdagvieringe. Foto: Facebook 

Hierdie finansiële druk maak dit moeilik om die nodige mediese sorg te bied aan die gestremde kinders wat in die ortopediese huis woon, sê Rodger Adams, Helen Bishop-direksievoorsitter.

Die VF Plus-wetgewerlid Theo Joubert het laasweek gevra die provinsiale gesondheidsdepartement moet aanspreeklik gehou word vir sy nalatigheid in die versorging van ’n huis wat aan gestremde kinders toegewy is. “Die huis is in ’n kritieke toestand en die departement se versuim om voldoende subsidiëring te verskaf, plaas die lewens van hierdie kinders in gevaar.”

Van die personeel wat tientalle jong inwoners in die Helen Bishop-huis in Kimberley versorg. Foto verskaf 

Die Helen Bishop-tehuis bied al 75 jaar noodsaaklike sorg aan van die samelewing se mees kwesbaarste kinders. Die jong inwoners het ernstige gestremdhede, soos serebrale gestremdheid en spina bifida.

Hulle kort dus dag en nag mediese sorg soos voeding, doeke omruil, bad, aantrek en om hul rolstoele te stoot omdat hulle feitlik niks vir hulleself kan doen nie.

Hul tussentydse kontrak sluit nie vergoeding vir noodsaaklike mediese personeel in nie. “Ons sukkel nie net weens die begrotingstekort nie, maar ook weens vertraagde betalings, die gebrek aan behoorlike toesig en swak kommunikasie deur die departement,” sê Adams.


Joubert bestempel die departement se nalatigheid as “roekeloos”. “Ons het aan die LUR vir gesondheid, Maruping Lekwene, en die (departementshoof), Mxolisi Mlatha, geskryf en eis aanspreeklikheid vir hul optrede – of eerder, hul gebrek aan optrede.”

As deel van ’n insamelingspoging word ’n Valentynsdans en aandete in samewerking met Metropolitan Life vir Vrydag 21 Februarie in Helen Bishop se saal beplan.

Die Helen Bishop-tehuis se tussentydse kontrak sluit nie vergoeding vir noodsaaklike mediese personeel in nie. Foto: Facebook

Diegene wat wil bydra, kan aan die geleentheid deelneem of op ander maniere help, soos om gereeld doeke te skenk, wat noodsaaklik is vir die inwoners.

Om by die Valentynsdans betrokke te raak of kaartjies te koop, nader Langley by 083 783 3706 of kontak desiree.langley@metropolitan.co.za. Maak kontak met Chrissie Damon, Helen Bishop se bestuurder, by 083 286 4222.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.