On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Vermoorde Bloemfonteinse oudlanddros se tuinwerker bieg

───   ZENANDE MPAME 11:42 Fri, 14 Feb 2025

Vermoorde Bloemfonteinse oudlanddros se tuinwerker bieg | News Article
Vermoorde Bloemfonteinse oudlanddros se tuinwerker bieg. Foto: Zenande Mpame

Die twee wat beskuldig word van die moord op ’n Bloemfonteinse oudlanddros verskyn weer Vrydag (21/2) in die Bloemfonteinse landdroshof.

Jan Deal (51) het sy borgtogaansoek laat vaar ná ’n dag lange verhoor Donderdag. Letiscia Adams (42) sal verskyn vir die voortsetting van haar aansoek en verdere kruisondervraging van die ondersoekbeampte.

Jan Greeff, ondersoekbeampte, het Donderdag (13/2) getuig Deal het Sondag teenoor die polisie erken hy het Piet Bester (63) met ’n graaf en ’n tuinvurk aangerand.

“Die oorledene is halfkaal gevind met net ’n T-hemp en onderklere aan, bedek met ’n wit laken,” het Greeff in die getuiebank gesê. “Tydens verdere ondersoek is vasgestel dat R4 000 Vrydag 10 Januarie uit Bester se rekening onttrek is.”

Die twee verdagtes het twee dae later by die Glen-polisiekantoor gerapporteer dat hul werkgewer dood is. “Hulle is eers later in hegtenis geneem, aangesien hulle nie gesê het hulle het die moord gepleeg nie,” het Greeff getuig.

Voor hul inhegtenisneming het Deal en Adams na bewering tydens ’n drinkery in ’n plaaslike kroeg gebieg hulle het Bester om die lewe gebring. ’n Werker van ’n buurplaas het dit gehoor en sy werkgewer in kennis gestel, wat toe ’n burgerlike inhegtenisneming uitgevoer het, het Greeff gesê.

Die hof het ook gehoor dat Deal jare gelede vir Bester probeer verdrink het, maar misluk het omdat Bester sterker as hy was. Deal het ook aan die polisie bevestig dat hy en Bester gereeld baklei het, maar geen voorvalle is ooit aangemeld nie.

Verduideliking van die aanklagte

Die ondersoekbeampte is gevra om die drie aanklagte teen Deal en Adams te verduidelik: 

  • Roof met verswarende omstandighede: Bester se Absa-bankkaart is gesteel en later tydens ’n onderhoud by die polisiekantoor in Adams se besit gevind. Een van Bester se selfone is steeds soek en die polisie probeer dit opspoor. Kontant in sy beursie is ook weg.
  • Moord: Deal het aan die polisie erken dat hy vir Bester met ’n graaf en ’n tuinvurk aangerand het.
  • Regsverydeling: Die twee het versuim om die polisie in kennis te stel dat Bester oorlede is. Hy kon vir een of moontlik twee nagte daar gelê het, aangesien sy liggaam ontbind was toe dit gevind is.

Die beweerde moordwapens – ’n graaf en ’n tuinvurk – is ná die misdaad terug na die pakkamer geneem. Volgens ooggetuies was Adams besig om rondom Bester se liggaam skoon te maak toe die polisie op die toneel aankom.

Adams is gevra waarom sy nie die beweerde moord aangemeld het nie, en sy het gesê sy was bang dat Deal haar sou aanrand.

Deal en Adams is in hegtenis geneem vir die moord op Bester, ’n voormalige landdros en gewese stut vir die Vrystaat en Griekwaland-Wes, op Sondag 12 Januarie – dieselfde dag wat sy liggaam gevind is. 

OFM-Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.