Central SA
Klein Tennique drie weke ná dodelike botsing ontslaan─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:31 Wed, 12 Feb 2025
![Klein Tennique drie weke ná dodelike botsing ontslaan Klein Tennique drie weke ná dodelike botsing ontslaan | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/78b7d7c4-40c1-41e8-88bf-fb1339b9c2fc.png?crop=0,10,572,332)
Die sesjarige wat ’n dodelike botsing buite Bloemfontein oorleef het, is ná byna drie weke uit die hospitaal ontslaan.
Tennique Joubert (6), die enigste oorlewende kind van ’n ongeluk waarin drie ander kinders gesterf het, is Woensdag (12/2) ná 19 dae uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan, sê haar oupa Cornelius Berry.
Sy moes kort ná die ongeluk ’n operasie in die Mediclinic ondergaan om haar milt te verwyder en is daarna na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas om aan te sterk.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Tydens haar herstel het sy buisvoeding ontvang, maar sy het Dinsdag (11/2) vir die eerste keer self geëet en ’n melkie gedrink. “Tennique is mal oor roomys en het gister (Dinsdag) ’n hele bakkie daarvan geëet!” vertel haar oupa. Hy voeg by dat sy ál meer begin praat, maar steeds sukkel om te loop.
Die laaste paar weke was emosioneel en finansieel moeilik vir die gesin. Haar oupa en ouma Madelein, in wie se sorg sy is, het haar elke dag in die hospitaal besoek en vertel dit was moeilik om haar te groet wanneer besoektyd verby was, “omdat sy elke keer wou huil”.
Tennique sal nou haar behandeling in die Busamed-hospitaal voortsit en ook berading kry.
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe
Hoewel sy die meeste mense onthou wat haar in die hospitaal besoek het, kan sy nie haar drie maatjies onthou wat saam met haar in die motor was op daardie noodlottige Vrydagoggend (24/1) op pad skool toe nie. Die boeties Ryan (6) en Ayden (8) Smit, en hul niggie Leané van Papendorp (8) het hul lewe verloor.
’n Hilux-bakkie het met hul Chevy Spark gebots op die kruising van die N8 en Krugerlaan, by Aljo’s Superspar. Ryan en Leané is op slag dood en Ayden het later in die hospitaal gesterf nadat sy hart twee keer gaan staan het.
Leané se ma, Adri Jonck, wat die motor bestuur het, is ook in die ongeluk beseer, maar kort daarna uit die hospitaal ontslaan. Die bestuurder (19) van die Hilux, wat ’n sleepwa met swaar metaal daarop gesleep het, kon na bewering nie betyds rem trap nie.