On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende polisiemoordenaar middel Maart terug in Kimberley-hof

───   ZENANDE MPAME 14:46 Wed, 12 Feb 2025

Vermeende polisiemoordenaar middel Maart terug in Kimberley-hof | News Article
Vermeende polisiemoordenaar middel Maart terug in Kimberley-hof. Foto: OFM Nuus

Die man wat aangekla word van die moord op twee polisiebeamptes in Kimberley, se verhoor is tot Dinsdag 18 Maart uitgestel.

Sy regsverteenwoordigers wil die forensiese sielkundige dr. Gérard Labuschagne betrek oor die psigologiese verslae wat by die Noord-Kaapse psigiatriese hospitaal bekom is.

Die 40-jarige Daniel Alberts het Maandag (10/2) in die Kimberleyse hooggeregshof verskyn op die eerste dag van sy verhoor. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal, een van diefstal en een van ontvoering.

“Tydens sy verskyning in die landdroshof het die beskuldigde die hof ingelig dat hy nie meer sy regsverteenwoordiger se dienste nodig het nie,” sê Senokoatsane, “en beplan om homself … te verteenwoordig.”

Wyle Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van Kimberley se blitspatrollie. Foto: X

Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van Kimberley se blitspatrollie het Donderdag 22 Augustus inligting opgevolg oor ’n gesteelde voertuig wat van Bloemfontein af op pad was en later in die Diamantstad opgemerk is.

Alberts het na ’n Transnet-terrein gejaag, waar hy ná ’n botsing probeer weghardloop het. Toe die twee beamptes hom agternasit, het hy glo op hulle losgebrand. Albei is doodgeskiet. Hy is later daardie dag in hegtenis geneem.

In die 2023/2024-boekjaar is 111 polisiebeamptes in Suid-Afrika vermoor, ’n byna 21%-toename vergeleke met die 92 sterftes die vorige jaar, het News24 in November berig.

Dit is die hoogste syfer in vyf jaar en sluit beamptes in wat aan en van diens af was. KwaZulu-Natal (22 sterftes) en Gauteng (21) was die provinsies waar die meeste voorvalle voorgekom het.

Die styging in polisiemoorde is “uiters ontstellend”, sê Richard Mambolo, Popcru-woordvoerder. “Baie beamptes wonder elke dag of hulle veilig sal terugkeer huis toe. Dit tas hul gemoedstoestand en moraal aan.”

Volgens hom word die meeste beamptes buite werksure vermoor, dikwels as gevolg van hul beroepsomgewing. Die gemeenskap weet wie die polisiebeamptes is en dat hulle staatsvuurwapens besit, wat hulle ’n teiken maak vir aanvalle.

Talle beamptes het nie die finansiële middele om hul eie veiligheid te verbeter nie, aangesien hul salaris nie voldoende is vir ekstra sekerheidsmaatreëls nie.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.