On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe hoofstuk wag in Pretoria op Eunice se hoof

───   KAREN VAN DER BERG 12:01 Wed, 12 Feb 2025

Nuwe hoofstuk wag in Pretoria op Eunice se hoof | News Article
Zinnette de Wet neem ná tien jaar afskeid van Eunice High School in Bloemfontein. Foto verskaf

Dis tyd vir die skoolhoof van Eunice High School in Bloemfontein om die tuig neer te lê ná tien geseënde en opwindende jare.

Zinnette de Wet val op 1 April in as nuwe hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria (AHMP).

“My tyd by Eunice was verrykend en kosbaar,” sê De Wet en voeg by sy weet sy het alles vir die skool gegee. “Dit was ’n absolute voorreg om energie en inspirasie uit die werk te put. 

“Ek eer die skool vir die kernrol wat sy in Bloemfontein en die res van die land speel.”


De Wet en haar man, Kobus, sien uit na die nuwe hoofstuk om nader aan hul kinders en kleinkinders in Pretoria te wees. “Dit is ’n absolute bonus in hierdie tyd van ons lewe. Ek glo wel ook in die Here se plan en weet dit is groter as wat ons nou kan verstaan.”

Wat AHMP betref, sien sy uit na die groei en impak wat sy op nóg ’n skool kan hê. “Ek is in wese avontuurlustig en ek floreer op kreatiewe prosesse. Ek sien uit na die nuwe ritme, die nuwe kultuur en omgewing. Dit is baie opwindend. Ek sien ook daarna uit om my passie en ervaring vir die onderwys in my moedertaal uit te leef.”

Seuns van die naburige Grey Kollege by Zinnette de Wet. Foto verskaf

Wat De Wet altyd van Eunice sal koester, is die “hart” van die skool om altyd die gemeenskap te bou en te ontwikkel. “Elke dogter, ouer, kollega en ondersteuner het my meer geleer oor my doelwitte en meer van myself.

Groot gemis

“Hulle het my laat glo dat ek ’n verskil in mense se lewe maak. Ek sal vir ewig dankbaar wees.” Sy het volle vertroue in die skool se bestuur en beheerliggaam om voort te bou onder die bekwame leiding van Jackie Bothma wat as hoof gaan waarneem.

Haar boodskap aan die dogters van Eunice, wat sy “verskriklik baie” gaan mis, is om altyd mekaar op te pas en daarna te streef om hul volle potensiaal te verwesenlik. Aanvaar elke uitdaging in die lewe “as ’n uitdaging vir jouself, en hou aan inspireer”.

De Wet neem oor by Marna Jordaan wat ná 17 jaar as skoolhoof einde verlede jaar by AHMP klaargemaak het.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.