Central SA
Kameelperd herstel ná hy duikerskedel sluk – Fotogalery─── KAREN VAN DER BERG 15:17 Wed, 12 Feb 2025
![Kameelperd herstel ná hy duikerskedel sluk – Fotogalery Kameelperd herstel ná hy duikerskedel sluk – Fotogalery | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/e49c68e8-66a3-4fa3-b16d-346ba4ae48dd.jpg?crop=27,58,754,467)
’n Kameelperd wat ’n duiker se skedel heel insluk, is voorwaar ’n seldsame verskynsel wat studie regverdig.
So sê prof. Francois Deacon, ’n dosent en navorser aan die departement vee-wild-en-weidingskunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) nadat ’n video en foto’s van dié voorval wêreldwyd opslae gemaak het.
Dr. Stephen Gerber, veearts van die Nylstroom Dierekliniek, is twee weke gelede ontbied om die skedel te verwyder nadat ’n kameelperdbul dit ingesluk het op ’n plaas in die distrik. Die kameelperd het glo goed herstel daarna.
“Hoewel dit gereeld gebeur dat kameelperde skedels kou, het ek nog nooit gesien een sit vas in die keel nie. Dit is baie vreemd,” sê Deacon.
Dr. Stephen Gerber, ’n veearts van die Nylstroom-dierekliniek, is toe ontbied om hom te help. Foto verskaf
Kameelperde kou graag beendere om voedingstowwe soos fosfor en kalsium daaruit te kry. “Dit staan as osteofagie bekend.
“Dit kom veral in gebiede in die Noord-Kaap en Noordwes voor waar grond se voedingswaarde nie so hoog is nie. Maar hierdie geval is baie interessant en seldsaam.”
Deacon sê ’n studie oor die voorval kan gerus gemaak word met die klem op hoe kameelperde minerale verkry.
UV se rol in bewaring
Hy sê kameelperde in Suid-Afrika het met talle uitdagings te kampe. Die UV is ten volle betrokke by projekte om die bewaring van Afrika se langnekke te bevorder.
Die kameelperd het glo goed herstel nadat die skedel verwyder is. Foto: Nico Smit
Van die finansiering kom van die Amerikaanse organisasie Save the Giraffes, vir ’n projek waarby wêreldkundiges betrokke is. Goeie werk word veral gedoen in die voortplanting van kameelperde.
“Die UV doen wonderlike werk hier en gebruik baie interessante tegnologie. Daar word klomp dinge gemonitor en nagevors en die werk moet glad nie onderskat word nie.
“Daar is klomp instansies wat by ons kom kers opsteek.”
Naval Hill se langnekke
Deacon sê dit is tragies dat geeneen van Naval Hill, Bloemfontein, se kameelperde oorleef het nie nadat hulle so goed aangepas het. Die laaste twee is in Januarie aan ontsteking dood.
“Dit is baie hartseer. Hulle het so goed hier aangepas. Daar is nie onmiddellike planne om weer nuwe kameelperde hier te vestig nie.”
Deacon sê kameelperde sal beslis weer later in die reservaat gevestig word, maar nie onmiddellik nie.
Hy sê Friends of Franklin, ’n organisasie sonder winsbejag wat hom beywer vir die natuurreservaat hier, doen uitstekende werk op Naval Hill. “Ons gaan saam met hulle werk en die habitat vir die diere regruk.
“Die grond moet gerehabiliteer word en bome moet hervestig word sodat die drakrag van die plante die diere kan onderhou. Dit is alles aan die gang. Die welstand van al die diere hier kry voorkeur.”
Hy moedig mense aan om die organisasie te ondersteun.