Central SA
Lewe van geliefde sakeman, boer dán gevier─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:57 Mon, 10 Feb 2025
![Lewe van geliefde sakeman, boer dán gevier Lewe van geliefde sakeman, boer dán gevier | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/730baee9-33fd-40df-aaed-9d077ea66f64.jpg?crop=0,1,600,339)
’n Geliefde sakeman en boer van die Vrystaat en Noord-Kaap se lewe word Sondag (16/2) gevier.
Jacques Strydom (54) is Vrydagoggend op Victoria-Wes in die Noord-Kaap oorlede, waarskynlik aan ’n hartaanval, sê Chrisel Strydom (26), sy oudste dogter.
Haar stiefma, Marica Strydom, het in die badkamer op haar pa afgekom. Hy het ’n perdeskou saam met hulle bygewoon.
Strydom was ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Saalperdvereniging en het ’n passie gehad om aan perdeskoue deel te neem. Hy was ook eienaar van die Human Auto Group, ’n gerespekteerde familieonderneming wat al 75 jaar deel van die Vrystaatse en Noord-Kaapse sakelandskap is.
Die Human Auto Group het takke in Bloemfontein, Welkom, Kimberley en op Ficksburg, en is die primêre Ford-handelaar in dié streke. Strydom se oupagrootjie dr. Barnie Human het dié familie-onderneming op 3 Januarie 1950 gestig onder die naam Human & kie. Die besigheid het later in Human Motors Bloemfontein ontwikkel.
In 1969 het Human Motors na sy huidige perseel in Bloemfontein verhuis, waar dit tot vandag toe nog is. Die Kimberley-tak het in 1958 geopen, gevolg deur die Welkom-tak in 1960.
Jacques se oom Callie Human het in 1967 sy lewe in ’n motorfietsongeluk verloor terwyl hy op pad was na Grey-kollege. Die Callie Human-kompleks aan die Universiteit van die Vrystaat is na hom genoem, onder verskeie ander huldeblyke aan sy nalatenskap.
Wyle Jacques Strydom (54) saam met sy gesin. Van links is sy dogter Jazelle Strydom, sy ma, Christa Strydom, Jacques, sy dogter Chrisel Strydom en sy vrou, Marica Strydom. Foto verskaf
Strydom se lewensviering vind Sondag om 11:00 op die plaas Be Human Middelwater plaas.
Jacques sal onthou word as ’n buitengewone man wie se bydraes ontelbare lewens geraak het, sê Nick Efstathiou, uitvoerende hoof van Central Media Group. “Sy vriendelikheid en briljantheid was altyd teenwoordig, en hy was ’n plesier om mee te gesels. Hy was innig geliefd, en ek sal hom baie mis. Mag hy in vrede en liefde rus.”