Central SA
Heidedal-polisiebeamptes kry R1 000 borgtog ná beweerde aanranding─── ZENANDE MPAME 13:03 Fri, 07 Feb 2025
![Heidedal-polisiebeamptes kry R1 000 borgtog ná beweerde aanranding Heidedal-polisiebeamptes kry R1 000 borgtog ná beweerde aanranding | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/c2495ab2-6df5-400d-a4ee-b8d819842a95.jpg?crop=0,41,489,316)
Twee polisievroue van die Heidedalse polisiekantoor in Bloemfontein moet weer Vrydag 7 Maart in die Bloemspruit-landdroshof verskyn nadat hulle na bewering ’n vrou aangerand het wat ’n klagte van gesinsgeweld wou ingedien het.
Molebogeng Marumo (38) and Mamorena Shuping (28) het Vrydag (7/2) vir die eerste keer voorgekom toe hulle op borgtog van R1 000 elk vrygelaat is. Uit vrees vir betogings deur die gemeenskap van Heidedal is die hof waarin hulle sou verskyn, geheim gehou.
Die beamptes is Donderdag (6/2) in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal van die aanranding van ’n vrou in die polisiekantoor wyd op sosiale media versprei is.
Senzo Mchunu, minister van polisie, veroordeel intussen hul optrede ten sterkste en vra die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) moet dit dringend ondersoek. “Dis wetstoepassers se plig om die wette toe te pas en alle burgers se regte te beskerm. Enige optrede wat strydig met dié plig is, sal met die gereg in sy volle omvang te doen kry.
“Die veiligheid en waardigheid van elke persoon wat by ’n polisiekantoor om hulp aanklop, moet altyd beskerm word. Ons loof Opod vir sy deurslaggewende stappe om te verseker dat beweerde polisiemisbruik deeglik ondersoek word.”
Nadat talle Heidedal-inwoners die video onder oë gehad het, het hulle geëis dat die beamptes summier ontslaan word. “Interne ondersoeke is aan die gang om die bewerings te bevestig en te verseker dat die regte stappe gedoen word,” sê Mchunu.
Die minister voeg by die polisie diens sal nie toelaat dat beamptes lede van die publiek mishandel nie, veral nie misdaadslagoffers “wat beskerming en geregtigheid soek” nie. Hy gee die versekering die polisie sal alles in hul vermoë doen om slagoffers van gesinsgeweld by te staan.
Steffney Booysen, die slagoffer, het ’n aanrandingsaak aanhangig gemaak nadat sy na bewering deur twee polisievroue aangerand is toe sy Sondag 19 Januarie haar saamwoonmaat se verbale mishandeling by die polisiekantoor wou aangemeld het.
Booysen sê sy het agter in die kantoor gesit toe ’n polisiebeampte haar verskeie kere teen die rug skop. Dit is nou so pynlik dat sy sukkel om alledaagse take te verrig.
Mchunu het Woensdag (5/2) in ’n Facebook-video saam met Gayton McKenzie. PA-leier, gesê: “Ons het kennis geneem van die ontstellende video op sosiale media. Ons wil hê hierdie polisievroue wat dit aan ’n hulpbehoewende vrou gedoen het, moet gearresteer word. Daar is geen twyfel daaroor nie.”