Central SA
Talle leerders beseer in nóg ’n botsing in Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 16:34 Fri, 31 Jan 2025
Talle leerlinge van ’n Bloemfonteinse privaat skool is Vrydagmiddag (31/1) ná skool in ’n padongeluk beseer, ’n week nadat drie laerskoolkinders hul lewe in ’n botsing aan die ander kant van die stad op pad skool toe verloor het.
Volgens ooggetuies het die bestuurder van ’n minibus, wat leerders van Curro Bloemfontein vervoer het, na bewering nie stilgehou by die stopstraat op die hoek van Ray Championstraat, Frans Kleynhans- en Reyneckelaan in Heuwelsig nie.
Die taxi het uit Reyneckelaan skuins oor Frans Kleynhans by Ray Champion probeer indraai toe hy vasry in ’n Hyundai i10, wat met Frans Kleynhanslaan in die rigting van Lucas Steynweg op pad was.
Twee van die seuns in die minibus het hoofbeserings opgedoen. Foto: Charne van der Merwe
Die vrou wat die Hyundai i10 bestuur het, vermoed die minibusbestuurder het gereken hy sou vinnig genoeg oor die pad kon kom. Sy verkies om nie haar naam bekend te maak nie.
Die minibus het weens die trefslag met die Hyundai ook vasgery in ’n Volkswagen Caddy, wat by die stopstraat in Ray Championstraat staan en wag het. Die impak het veroorsaak dat een van die leerders by die minibus se agterruit uitgeval en voorop die Caddy beland het.
Volgens ooggetuies het die Hyundai i10 uit Woodland Hills se rigting aangekom toe die minibus na bewering voor hom ingery het. Foto: Charne van der Merwe
Talle leerders in die minibus is beseer, hoewel presiese omvang van hul beserings en die presiese getal beseerdes nog nie bekend is nie. Van die jong beseerdes het snye en wonde aan hul bene en hande opgedoen, terwyl twee seuns kopbeserings gehad het.
“Die taxibestuurder het ná die ongeluk uit die bussie geklim, na my motor geloop – met ’n geskokte uitdrukking op sy gesig – en toe weggehardloop," vertel die vrou wat die Hyundai bestuur het.
Die minibus (links) het in die Hyundai (regs) vasgery in Frans Kleynhanslaan en toe die Caddie (middel) op die oorkantse stopstraat (Ray Championstraat) getref.
In die ongeluk Vrydagoggend (24/1) op die hoek van die N8 en Krugerlaan, by Aljo’s Superspar, is klein Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp op slag dood toe die Chevrolet Spark waarin hulle op pad skool toe was, deur ’n Hilux-bakkie betref is.
Ryan se boetie, Ayden (8), is later in die hospitaal oorlede. Die vierde kind in die motor, Tennique Joubert, sterk in Pelonomi-hospitaal aan. Adri Jock, Leané se ma wat die Spark bestuur het, is vir beserings behandel en later die dag uit Pelonomi ontslaan.