On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Mark
Listen Live Streams

Central SA

Saak teen verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros uitgestel

───   ZENANDE MPAME 13:17 Fri, 31 Jan 2025

Saak teen verdagtes in moord op Bloemfonteinse oudlanddros uitgestel | News Article
Wyle Piet Bester (63), ’n oudlanddros en eertydse Vrystaatse en Griekwas-stut. Foto verskaf

Die saak teen twee verdagtes in die moord op ’n afgetrede landdros van Bloemfontein hervat Donderdag (6/2) in die plaaslike landdroshof vir hul borgaansoek.

Letiscia Adams (41) en Jan Deal (51) het Vrydag (31/1) vlugtig in die hof verskyn op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

Die twee is in hegtenis geneem vir die moord op Piet Bester (63), ’n oudlanddros en eertydse Vrystaatse en Griekwas-stut, op wie se plaas in die omgewing van Glen buite Bloemfontein hulle langer as 17 jaar gewerk het, Adams as huishulp en Deal as tuinwerker.

“My ma se inhegtenisneming het ons gesin diep geraak, en ons het baie vrae hieroor, want ons glo sy het dit nie gedoen nie,” sê Louma Adams, Letiscia se dogter. “Ons hoop ons ma kry volgende week borgtog sodat sy huis toe kan kom.”

Letiscia Adams se twee kinders, Louma en Sechaba Adams. Foto: Zenande Mpame

Louma (24), wat werkloos is, en haar broer, Sechaba (18), ’n leerling, was Vrydag in die hof om hul ma te ondersteun. “Ek is baie hartseer dat my ma in hegtenis geneem is en ek wens sy kan volgende week borgtog kry,” het Sechaba gesê.

’n Ander werker het op Sondag 12 Januarie op Bester se liggaam afgekom in ’n plas bloed met veelvuldige wonde.

“Volgens die polisie het dit gelyk of Bester langer as twaalf uur dood was,” het Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Letiscia Adams (41) en Jan Deal (51) se saak is weer uitgestel. Foto: Zenande Mpame

“Die polisie glo hy is met ’n skerp voorwerp teen die kop geslaan, aangesien hy ’n wond bo sy oog gehad het. Die verdagtes is op Sondag (12 Januarie) in hegtenis geneem danksy die samewerking tussen die boeregemeenskap en die polisie.”

Enigeen met nadere besonderhede oor die moord kan kol. Ben Bolsiek, ondersoekbeampte, by 082 466 8530 of Stop Misdsaad by 08600 10111 bel..

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.