Central SA
Lodge-bestuurder van Noordwes se vermeende moordenaars bly agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:28 Fri, 31 Jan 2025
Een van die beskuldigdes in die moord op ’n lodge-bestuurder van Noordwes se borgtog is geweier nadat nuwe inligting tydens sy aansoek aan die lig gekom het.
Die inligting het vrae laat ontstaan; daarom sal William Johnson (John) Mboniswa (32) vir eers in aanhouding bly, sê brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Mboniswa en sy medebeskuldigde, Phafelo Israel Mboniswa (42), het Maandag (27/1) in die Potchefstroomse landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die noodlottige skietery op Ian Boshoff (32), ’n bestuurder van Snymanshof Lodge in die Buffelshoek-omgewing, tussen Potchefstroom en Parys.
Onverwagte bekentenis
Boshoff is op 25 Oktober tydens ’n rooftog om die lewe gebring.
Met hul hofverskyning in November het Mboniswa openlik erken dat hy Boshoff vermoor het, hoewel volle besonderhede van sy bekentenis nog nie aan die hof bekendgemaak is nie. Phafelo het nie om borgtog aansoek gedoen nie.
Die tweetal is op 7 November in Ikageng, Potchefstroom, in hegtenis geneem, waar John betrap is met ’n baadjie en pet wat aan die slagoffer behoort het.
Ian Boshoff is twee weke terug vermoor. Foto: Facebook
Volgens Mokgwabone het die verdagtes na bewering die huis deur ’n oop agterdeur binnegekom nadat Boshoff weg is. “Hulle het later die aand teruggekeer en Boshoff in ’n lokval gelei toe Phafelo na bewering die noodlottige skoot afgevuur het.”
John ontken die aanklagte teen hom. ’n Groot hoeveelheid van Boshoff se gesteelde eiendom is egter in sy besit gevind. Hy en Phafelo staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak, motordiefstal, besit van vermoedelik gesteelde goedere, onwettige besit van vuurwapens en onwettige besit van ammunisie.
Ian Boshoff se verdagtes het Maandag in die hof verskyn. Foto: Facebook
Die polisie het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op drie vuurwapens, voeg Mokgwabone by. “Twee (daarvan) is tydens die rooftog gesteel, en die derde is in ’n ander misdaad gebruik. Beslag is ook gelê op gesteelde items soos ’n noodwiel, klere, kampstoele, komberse, twee beddens, matte en ammunisie.”
Dit strook met die lys besittings wat uit Boshoff se woonplek gesteel is. Phafelo beweer hy het dit alles vir John gegee.