On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystater in hof weens Covid-19-bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:45 Wed, 29 Jan 2025

 Vrystater in hof weens Covid-19-bedrog | News Article
Antonio Richard Macdonald. Foto verskaf

’n Man van Bloemfontein moet op 10 Maart in die hof verskyn in verband met beweerde bedrieglike eise van meer as R1 miljoen vir Covid-19-bystand.

Antonio Richard Macdonald (61) is Maandag (27/1) deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof verskyn, sê ao. Fikiswa Matoti, die Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Macdonald, die eienaar van Radius Sales Merchandising, staan tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery. Hy is borgtog van R5 000 toegestaan.

Meer as R1 miljoen uitbetaal

Na bewering het Macdonald tussen 27 Maart 2020 en 29 Junie 2021 bedrieglike aansoeke om Covid-19-werkgewer-werknemer-verligting (Ters) namens werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien. Die fonds het altesaam R1 082 460,96 uitbetaal in tien betalings, sê Matoti.

’n Interne ondersoek het aan die lig gebring drie mense wat as werknemers in die Ters-aansoek gelys was, was in werklikheid burgers van Lesotho wat onwettig in Suid-Afrika woon. “Die saak is aangemeld en na die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige handelsmisdaad verwys, wat tot Macdonald se inhegtenisneming gelei het.”

Die saak word na die streekhof oorgeplaas.

Eis namens 28

In ’n afsonderlike saak sal ’n ander Bloemfonteiner vroeg aanstaande maand in die hof verskyn op soortgelyke aanklagte.

Marinda Johanna Smith (57) het op 12 Desember in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn toe borgtog van R5 000 aan haar toegestaan is, het lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder, vroeër gesê.

Smith word aangekla van bedrog en geldwassery van sowat R600 000. Sy het na bewering op ’n bedrieglike wyse Ters-geld namens 28 werknemers geëis en glo meer as R537 000 in haar sak gesteek.

Nadere ondersoek het aan die lig gebring nie een van die werknemers wat in die aansoek gelys is, het vir Smith se maatskappy, MJ Upholstery Free State (Edms.) Bpk., gewerk nie. 

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.