On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Geliefde boervrou van Noordwes Saterdag ter ruste gelê

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:57 Wed, 29 Jan 2025

Geliefde boervrou van Noordwes Saterdag ter ruste gelê | News Article
Irma en haar man, Jan. Foto: Facebook

Die gedenkdiens van ’n vooraanstaande boervrou van Vryburg word Saterdag gehou nadat ’n fratsongeluk haar lewe geëis het.

Irma van Zyl (64) is Dinsdag (28/1) oorlede weens ernstige beserings wat sy in ’n ongeluk opgedoen het.

Irma, die vrou van die Brahman-teler Jan van Zyl, was nou betrokke by die familie se boerderybedrywighede in die distrikte Vryburg en Olifantshoek.

Jan sê die ongeluk het Maandag naby Kaapstad plaasgevind. Irma het probeer om die deur van hul kampeerwa oop te maak toe ’n sterk wind dit oopruk en haar uitslinger. 

Liefdevolle ma en ouma

Sy het ernstige kopbeserings opgedoen en is na die hospitaal gehaas. Haar asemhalingtempo was af tot 10%, maar die dokters kon haar nie breindood verklaar nie.

Die mediese span het alles in die stryd gewerp om Irma se lewe te red, maar sy is die volgende dag oorlede met Jan, hul kinders, skoonseuns en skoondogters om haar bed.

In ’n boodskap wat op talle WhatsApp-groepe gedeel is, verwoord Jan sy hartseer en dankbaarheid. “Liewe familie en vriende, die Here het my geseën met ’n formidabele lewensmaat vir 46 jaar, en ’n liefdevolle ma en ouma.

Nou betrokke by boerdery

“Ek is dankbaar dat ek en my kinders die kans gehad het om op so ’n hartroerende manier te groet. Dankie vir jou gebede, trane en ondersteuning. Ons het vrede gemaak met sy onbegryplike besluit, wetende dat Sy wil geskied.”

Hy vra ook dat mense hulle tyd sal gun om hul verlies te verwerk. “Sy dans nou in die Here se tuin, omring deur blomme,” skryf haar man.

Jan en Irma het sowat ’n jaar gelede afgetree toe hulle die familieboerdery aan hul seuns, Gideon en Jan jr., oorgedra het. Hul Brahman-stoetery, Kroon Vee, word landwyd hoog geag en verskaf steeds waardevolle teelmateriaal aan die stoet- en sowel as die kommersiële beesbedryf.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.