On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorper se saak hersien ná aanranding in parkeerterrein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:51 Wed, 29 Jan 2025

Klerksdorper se saak hersien ná aanranding in parkeerterrein  | News Article
Wernich Botha word van die moord op Hilton Pretorius aangekla. Foto: Facebook

Die aanklagte van moord en poging tot moord teen ’n man van Noordwes ná ’n noodlottige bakleiery in ’n parkeerterrein, word nie in hul huidige vorm voortgesit nie.

Die direkteur van openbare vervolging sal die saak teen Wernich Botha (33) hersien. Dit kan daartoe lei dat hy teregstaan op aanklagte van aanranding en strafbare manslag pleks van moord en poging tot moord.

Botha staan tans tereg op aanklag van moord vir die dood van Hilton Pretorius (32) en poging tot moord omdat hy na bewering PW Roos, ’n sakeman van Klerksdorp, aangeval het. Botha se aanklagte wat met Roos verband hou, sal tot verwagting na aanranding en strafbare manslag gewysig word.

Dodelike liefdesdriehoek? Hilton Pretorius en Natasha Fischer. Foto: Facebook

Botha word daarvan aangekla dat hy Pretorius en Roos in September 2023 op die parkeerterrein van ’n kroeg in Klerksdorp aangerand het. Pretorius het 18 dae later gesterf aan kopbeserings, wat hy tydens die voorval opgedoen het, terwyl Roos intussen van ’n skouerbesering herstel het.

Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem, maar is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Hy beplan om onskuldig op die aanklagte te pleit.

Die saak sou na verwagting weer Maandag (27/1) plaasgevind het. “Nkefi Mthoa, die staatsaanklaer wat aan die saak toegewys is, het egter Maandag  gesê dat sy dit nie wil hanteer nie,” sê Linda Mey, Hilton se ma.

Sy het geen rede verstrek nie. ’n Nuwe aanklaer moet nou aangestel word. 

Klerksdorp-aanranding: Verdagte pleit onskuldig, verhoor begin in 2025 | News Article

Hilton Pretorius. Foto: Facebook

’n Video van die voorval wat wyd op sosiale media gedeel is, wys hoe Pretorius bewusteloos en bebloed op die parkeerterrein lê naby Cadillac’s 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp. Die video wys ook hoe Roos ná ’n enkele vuishou op die grond val nadat hy blykbaar wou ingryp terwyl Pretorius aangerand word

Die rusie was glo oor Botha se destydse meisie, Natasha Fisher. 

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.