On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Soeke na water ’n roeping vir boorgatkenner van Bethlehem

───   07:00 Wed, 29 Jan 2025

Soeke na water ’n roeping vir boorgatkenner van Bethlehem | News Article
Martyn Landmann. Foto verskaf

Water is lewe.

Dis die leuse van Martyn Landmann (45) van Bethlehem wat met die klanke en ritme van ’n boormasjien grootgeword het. 

Hy is direkteur van JM Landmann Boordienste, ’n familieonderneming wat sedert 1969 landwyd boor vir water en die afgelope jare ook as kontrakteur by die humanitêre werk van Gift of the Givers betrokke is.

Sy werk is vir hom ’n roeping, vertel Landmann. ’n Boorgat wat water lewer, is ’n herinnering dat selfs op die droogste plekke in Suid-Afrika lewe met die regte sorg kan floreer.

Grootste dam dar Bo

“Water is kosbaar. Water is lewe. Die grootste dam is egter daar bo by ons Skepper. Sy water uit die wolke maak damme vol en syfer deur klipformasies om geil water-are diep in die aarde te vorm.

“Hy maak die mens bekwaam om daardie waterare raak te boor wanneer mense dit nodig het. Ek is dankbaar om instrumenteel te wees om kliënte se lewensgehalte te verbeter.”

Elke boorgat kan ’n reddingsboei vir ’n gemeenskap of plaas wees. Die klank van ’n boormasjien is die klank van hoop wat deur droë landskappe eggo. Dis musiek op die oor en hoop in die hart, sê Landmann.

Werk waarby Martyn Landmann (links) onder leiding van dr. Imtiaz Sooliman (middel) betrokke was, is werk wat hom nederig laat voel. Foto verskaf

Suid-Afrika het nog altyd ’n waterprobleem gehad. Die Noordoos-Vrystaat kry ’n redelike reënval per jaar, maar droogtes kom in siklusse voor.

Agri News Net berig 70% van die aarde se oppervlak word met water bedek, waarvan 97% sout en 3% vars is. Van hierdie 3% is minder as net ’n derde beskikbaar vir lewe op aarde. Suid-Afrika, ’n waterskaars land, se gemiddelde jaarlikse reënval is 492 mm, maar wêreldwyd is dit 985 mm.

Die Landmanns was al by derduisende boorgate betrokke, maar dis net ’n korttermynoplossing, vertel hy, ’n menslike reddingspoging. Sodra die dompelpomp opgerig is, moet die gat boonop goed bestuur word.

‘Die geheim is dat die boorgat daarna bestuur moet word’

Hulle het al vir baie munisipaliteite geboor, maar die geheim is dat die boorgat daarna deur ’n spesialis bestuur moet word. Boorgate kan nie ’n dorp se waternood red nie.

Boorgate wat sy span saam met Gift of the Givers by die St. Albans School en Altona in Port Elizabeth geboor het, kon ’n groot verskil maak.

Ander skole het hul voorbeeld gevolg sodat hulle ook weer in alle opsigte kan funksioneer. Die 15 000 liter per dag van St. Albans se boorgat is voldoende vir die skool se gebruik en selfs om die gemeenskap te help.

Sodra water gevind word, word die sterkte gemeet en die gehalte in ’n laboratorium getoets. Foto verskaf

Van die noodlenigingswerk waarby hy al onder leiding van dr. Imtiaz Sooliman betrokke kon wees, soos by hospitale in Gauteng en Qwaqwa en by gemeenskappe landwyd waar daar geen water was nie, is werk wat hom nederig laat voel.

Hy het al gesien hoe ’n man twee dae op sy hurke sit en bid, só desperaat was hy vir water. Hy het net die plaas oorgehad.

Sommige inwoners in Qwaqwa loop al langer as 20 jaar daagliks lang ente om drinkwater en water vir huishoudelike gebruik te gaan haal. Dis mense wat nie kos, elektrisiteit of vervoer het nie.

Waterwys ’n uitdaging

Vir hulle is dit rampspoedig om nog sonder water ook te wees, sê Landmann. Om dan vir sulke mense water te gee deur diep in die aarde te soek en te vind, is ’n groot voorreg en genade van Bo. Die dankbaarheid en trane in hulle oë kan woorde nooit beskryf nie.

Landmann praat met lof van Sooliman en werk ook saam met sy seun Rayhaan. Hulle is mense-mense met ’n goeie hart wat hulself in behoeftiges se skoene kan plaas. Hulle werk is inspirerend en spreek van daadkrag.

Die aanwys van water is ’n groot uitdaging. Die wetenskaplike metodes is die beste; daarom het die jare wat hy saamgewerk het met die geoloog en paleontoloog dr. Gideon Groenewald hom baie geleer.

Nadat ’n boorgat gesink is, moet dit goed bestuur word. Foto verskaf

Sy pa, Tienie, was ook ’n groot leermeester. Water vloei en veroorsaak wrywing, en so ontstaan die aarde se magnetiese velde. Dikwels word ’n magnetometer gebruik wat magnetisme as riglyn gebruik om water aan te dui.

Die klipformasies van die omgewing word egter ook fyn bestudeer en plekke waar klipplate bymekaarkom. Hy kan nie water onder die aarde “sien” nie, die ervaring leer ’n mens waar jy kan boor. Sodra water gevind word, word die sterkte gemeet en die gehalte in ’n laboratorium getoets.

Ses boormasjiene wat tussen provinsies beweeg, bied Landmann ’n sterk ondersteuningstelsel. Sy kantoor op die plaas word deur sy vrou, Sonja, en familielede bedryf.

Landmann werk gereeld met Gift of the Givers saam om waternood te verlig. Foto verskaf

Sy persoonlike “netbalspan” en hart se punt is sy drie dogters, Miyanke (12), Lizay (9) en Anjè (6). Dan is daar sy boorspanne wat opgelei is uit sy ervaring en liefde vir die vind van water deel. Hulle werk al jare saam en daar is groot onderlinge respek.

“Om te boor vir water is nie net om diepte te bereik nie,” glo Landmann, “maar om gelukkige harte en veranderde lewensomstandighede te sien gebeur.”

OFM Nuus/Susan Maré
 cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.