On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Drie Noord-Kaapse gesinslede wat in botsing sterf, dan gegroet

───   KAREN VAN DER BERG 06:00 Wed, 29 Jan 2025

Drie Noord-Kaapse gesinslede wat in botsing sterf, dan gegroet | News Article
Conrad en sy vrou Jolene Meyer van Kathu met hulle seuntjies. Ivan is op Conrad se skoot en Ivan op Jolene s’n. Foto verskaf

Die NG kerk op Olifantshoek sal na verwagting stampvol wees wanneer daar Saterdag afskeid geneem word van drie gesinslede wat in ’n botsing buite Vryburg gesterf het.

Conrad (35) en Jolene (32) Meyer en hulle babaseun, Juvan (18 maande), het Sondag 19 Januarie gesterf in ’n trompop botsing op die N14. Net hul oudste seun, Ivan (5), het die ongeluk oorleef.

Mariaan Eilerd, Jolene se suster, sê Ivan bly nou by hulle op ’n plaas in die omgewing van Glaudina in Noordwes waar die gesin van Kathu voor die ongeluk gekuier het.

Sy sê dit gaan onder die omstandighede goed met die vyfjarige. “Ons liewe Ivan is sprankelend. Daar is met tye trane, maar die blydskap is meer in elke dag se aktiwiteite.”

Sy boetie en ouers se begrafnis word Saterdag om 10:00 gehou.

Mariaan het vroeër aan OFM Nuus gesê sy en haar gesin sal Ivan altyd herinner hoe lief sy ouers en boetie hom gehad het. “Ons sal hom verseker dat hulle trots is op alles wat hy in die lewe behaal. Verder het ons hom so lief soos ons eie.”

Die gesin het diep spore getrap in die harte van talle mense wat hulle verhaal op Facebook gevolg het. Klein Juvan is binne sy eerste sowat agt lewensmaande vyf maal geopereer, alles aan sy buik. Hy was 220 dae in die hospitaal voordat hy in Februarie verlede jaar ontslaan is.

Sy ma het destyds vertel hy was net een dag by die huis toe hy koors kry en weer opgeneem moes word in Mediclinic Bloemfontein, 420 km van hul huis in die Noord-Kaap af.

Klein Juvan saam met sy pa, Conrad. Hulle is beide in die ongeluk dood. Foto: Facebook

Haar swangerskap met Juvan het haar en Conrad onkant gevang omdat dit nie beplan was nie. Hulle vorige seuntjie het op vier weke aan sistiese fibrose gesterf.

Die Kalahari se snikhete was nadelig vir Juvan se gesondheid. Hulle mag nie waterverkoelers in hul huis aangeskakel het nie omdat dit muf en bakterieë kon veroorsaak het wat tot longontsteking kon gelei het. Daarom het hulle geld probeer insamel vir ’n ander soort verkoeling in sy kamer.

Juvan se ma het destyds gesê hy was ’n vegter en hulle sou alles in die stryd werp om sy lewe vir hom so goed moontlik in te rig en vir hom ’n goeie toekoms moontlik te maak.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.