On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Franse paartjie wat met fietse deur wêreld reis, mal oor Bloemfontein

───   KAREN VAN DER BERG 10:12 Tue, 28 Jan 2025

Franse paartjie wat met fietse deur wêreld reis, mal oor Bloemfontein | News Article
Vir Émeline Féat was die natuurskoon van die Karoo iets wat haar asem weggeslaan het. Die foto is naby Willowmore geneem. Foto verskaf

Hulle is oor verskeie vastelande, het duisende kilometers afgelê en berge en dale platgery. Dit alles per fiets.

Yohann Hervy en Émeline Féat (albei 28) is ’n Franse paartjie wat die wêreld reeds sewe maande lank plattrap, en nog is dit het einde niet. Hulle het vroeg Dinsdag (28/1) uit Bloemfontein vertrek nadat hulle ’n paar dae hier gerus het.

Yohann en Émeline – wat woon in Bretagne, Frankryk se mees westelike – het mekaar op hoërskool ontmoet. Hulle is albei al lank kranige fietsryers en is albei verwant aan beroepsryers.

Ná deeglike beplanning en begrotings opstel, het hulle die avontuur van ’n leeftyd aangedurf toe hulle op ’n jaar lange fietstoer vertrek het.

Yohann Hervy en Émeline Féat het vir ’n paar dae kom asemskep in Bloemfontein. Hulle het ’n krieketwedstryd van die 0/9 A-krieketspanne tussen die laerskole Willem Postma en Jim Fouche by Willem Postma baie geniet. Hier staan hulle saam met Francois van der Berg, van Willem Postma. Foto: Karen van der Berg

“Ons het drie jaar gespaar om die toer moontlik te maak,” vertel Yohann, ’n sekondêre biologieonderwyser. Émeline was ’n bestuurder in die voedselbedryf, maar albei moes bedank omdat hulle so lank weg van die werk af sou wees.

Hulle het begin Julie in Montreal, Kanada, in die pad geval, deur Noord-Amerika gery en dié skof in Mexiko afgesluit. Van daar het hulle na Suid-Korea gevlieg en deur Japan en Taiwan getrap.

Middel Desember het hulle uit Taiwan in Kaapstad aangekom, deur die Karoo en Lesotho gery, en toe ’n rukkie in Bloemfontein kom asemskep. Van hier is hulle na Botswana en Zambië op pad, waar die Afrika-skof van hul toer by die Victoriawaterval gaan eindig.

Yohann Hervy (28) het so tussen die fietsry deur tyd gemaak om ’n skilpad se lewe te red. Foto verskaf

“Ons vlieg dan na Parys in Frankryk en gaan dan drie maande deur Europa reis, onder meer deur Noorweë, waarna ons dan hopelik einde Junie ons toer voltooi,” sê Yohann.

“Ons het wonderlike ervarings langs die pad gehad en kan soveel van alles vertel,” sê Émeline. Om in elke land mense se kultuur, kos en wyse van lewe te ervaar is vir hulle ’n groot genot.

In Suid-Afrika is hulle verbaas oor die mense se hartlikheid en gasvryheid. “Ons het sulke goeie mense al ontmoet – in die Karoo en hier in Bloemfontein.”

‘Natuurskoon hier is ook uit ’n ander wêreld’

Sy sê hulle was by ’n winkelsentrum in die noorde van Bloemfontein. “Soveel mense het na ons toe gekom en ons uitgevra oor ons toer en wou weet of ons enigiets nodig het.” 

Die gebaar van ander mense maak die verlange na hulle eie mense bietjie minder.

Yohann sê die natuurskoon hier is ook uit ’n ander wêreld. “Wat my altyd sal bybly, is toe ons deur die Karoo gery het en volstruise aan hul kant van die draad ons honderde meter ver bly volg het. Ek het nog nooit so iets gesien nie.”

Yohann Hervy en Émeline Féat is ’n paartjie van Frankryk wat reeds sewe maande op ’n fietstoer deur die wêreld reis. Hier is hulle by Kaap Agulhas, die mees suidelikste punte van Afrika. Foto verskaf

Hulle het gelukkig nog nie in gevaarlike situasies beland of hulle in wilde diere vasgeloop nie. “Die ergste ‘diere’ waarmee ons te doen kry, is muskiete.”

Van al die plekke waar hulle al gery het, staan Lesotho vir hulle uit as die plek waar hulle die verste verwyder van hul eie land gevoel het – die natuurskoon sowel as die kultuur. “Ons is bevoorreg om so ’n fietstoer te onderneem,” sê hulle. “Dit is ’n ervaring wat nie weer oor ons pad sal kom nie, en daarvoor is ons dankbaar.”

Hulle nooi enigiemand om hulle toer op Instagram te volg by: @tworedbikes

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.