Central SA
Bid vir Tennique, vra bedroefde skool ná botsing buite Bloemfontein─── MORNÉ VAN ROOYEN 09:02 Sun, 26 Jan 2025
Die Bloemfonteinse laerskool wat drie leerders in ’n botsing buite die stad verloor het, vra die gemeenskap moet bid vir die vierde leerder, wat ernstig beseer is.
Tennique Joubert is steeds in ’n koma in die trauma-hoësorgeenheid van die Pelonomi-hospitaal nadat sy Vrydagaand (23/1) geopereer is.
“Ek vra dat u vir haar en haar familie bid,” skryf Riekie Venter, hoof van die Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire, op Facebook. “Ons God is groot – níks is vir Hom onmoontlik nie.”
Vissies, soos die skool ook bekendstaan, vra die gemeenskap moet vir Tennique Joubert bid. Foto: Facebook/Dr CF Visser Primêre Skool
Twee leerders, Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8), is Vrydagoggend op pad skool toe op slag dood in ’n botsing op die kruising van die N8 en Krugerlaan by die Aljo’s Superspar. Die bestuurder van ’n Toyota Hilux het na bewering ’n rooi verkeerslig verontagsaam.
Ryan se boetie, Ayden (8), is met ernstige besering na die Busamed-hospitaal geneem, waar sy hart twee maal gaan staan het voor hy dood verklaar is. Sy tannie Adri Jonck, Leané se ma wat die Chevrolet Spark bestuur het waarin die kinders op pad skool toe was, word ook in Pelonomi behandel.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Martin en Yolandé Smit, Ryan en Ayden se ouers, is vir skok behandel nadat hulle albei hul kinders in die ongeluk verloor het. Leané se pa, Herman van Papendorp, is ’n polisiebeampte op De Aar. Martin is bedryfsbestuurder van Maselspoort.
Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, het sers. Mahomela Kareli, provinsiale woordvoerder, Vrydag gesê. Beamptes van die Navalsig-polisiekantoor is omstreeks 07:40 na die ongelukstoneel ontbied.
Die vier leerders se skool is in rou gedompel ná die skielike verlies van drie leerders. “Hierdie verlies laat ’n leemte in ons hart,” skryf Vissies in ’n afsonderlike inskrywing op sosiale media. “Ons wil graag ons innige simpatie en medelye met hul families, vriende en klasmaats betuig.”
Drie leerders van Vissies het hul lewe in die ongeluk Vrydag voor skool verloor. Foto: Facebook/Dr CF Visser Primêre Skool
“Ons hou vas aan die positiewe impak wat hulle op ons almal gehad het. Mag hulle glimlaggies en vrolikheid vir altyd in ons gedagtes wees. Laat ons hulle herinneringe vier deur dit wat hulle in ons lewe gelos het, te koester en voort te dra.”
Sosialemediagebruikers reageer met skok en verbystering op die nuus. “My hart skeur in flarde van hartseer,” skryf Driekie du Plessis. “Mooiste kindertjies. Dis ’n verskriklike tragedie. Baie sterkte aan elke mamma, pappa, boetie, sussie, maatjies, onderwysers, die skool, elkeen van julle in besonder.”
Paramedici was gou op die toneel op die hoek van die N8 en Krugerlaan. Foto: Facebook/Ntando Mkhuzangwe
Corrie Claassens is stomgeslaan. “Daar is nie genoeg woorde om hierdie ongelooflike gru-ongeluk te beskryf nie. Die drie kindertjies was nog so jonk. My innige simpatie met die ouers familie en hulle maatjies!”
Maar heelparty is woedend. “Dit is belaglik, en twee jong lewens is van hul geliefdes weggeneem,” skryf Bernadett Booysen. “Die minister van vervoer en die verkeersbeamptes moet die skuld kry omdat niks gedoen word nie. Regtig, in hierdie land maak mense nes hulle wil wanneer hulle bestuur.”
MGipaKinGp Ntja wonder hoe vinnig die bakkie moes ry om die Spark se deur af te ruk. Maar Odette Lynn Barnard sê bespiegeling help nie. “Dié een moes dit gedoen het, of daai een moes dat gedoen het. Die feit is, drie kinders het hul lewe verloor en geen hoeveelheid bespiegeling kan dit regverdig nie.”