Central SA
Klagskrif eis ingryping teen Nasionale DBV─── 11:34 Thu, 23 Jan 2025
Bethlehem en Tshwane se DBV-spanne voer saam ’n hofstryd teen die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) oor die skorsing van ’n jare lange voorsitter van die Oos-Vrystaatse vereniging.
Dokumente met navrae oor die NDBV is reeds in Julie aan John Steenhuisen, minister van landbou, gerig.
Marlene Marais van MDM Attorneys in Bloemfontein, wat die twee DBV’s verteenwoordig, het gevra hy moet ondersoek instel. ’n Petisie met meer as 4 000 handtekeninge is ook aan Steenhuisen gestuur.
Volgens Marais bly net 67 van die sowat 90 DBV’s in Suid-Afrika oor, wat ’n donker prentjie skets. Op die NDBV se nasionale jaarvergadering in Oktober kon net 17 DBV’s stem omdat hulle nog in goeie bedryf is.
Isoldé Laesecke, onafhanklike raadslid. Foto verskaf
Marais sê Steenhuisen het nog nie van hom laat hoor het nie. Sy eis dat die minister kragtens Artikel 16 van die Wet op Dierebeskermingsverenigings die bestuursvermoë en -uitvoering van die NDBV ondersoek en dat sy die saak na die hof neem om vir die DBV’s te veg sodat geregtigheid kan geskied.
Sy voer aan die NDBV is nie daartoe in staat om sy take en doelstellings na te kom nie. “Verkeerde besluitneming” deur amptenare van die raad in opdrag van Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NDBV, het al “groot skade” aangerig en diereliefhebbers die hoenders in gemaak, sê Marais.
In een van die voorvalle is Corlene van der Merwe, wat sedert 2010 ywerig vir die Bethlehem-DBV werk, van haar pos as voorsitter onthef nadat sy ’n perd in samewerking met ’n plaaslike veearts gered het. Beamptes van die NDBV het geëis dat sy die dier laat uitsit.
Minister Steenhuisen se ingryping by DBV’s vereis. Foto verskaf
“John Steenhuisen moet van die hele raad van die NDBV ontslae raak. Dit sal ter wille van DBV’s in Suid-Afrika geheel en al gerekonstrueer moet word omdat nuwe mense nodig is,” sê Marais. “Die raad moet ook alle toerusting van ander DBV’s wat gesluit is, oordra aan bestaande vereniging wat dit nodig het.”
Die NDBV het volgens Marais nie sy grondwetlike pligte nagekom nie en het plaaslike verenigings nie ondersteun en help ontwikkel nie. Beamptes kon wel “soos ’n mafia” toesak op sommige DBV’s om diere voor die voet uit te sit. Sy dring ook aan op ’n volledige forensiese oudit na die NDBV se geldsake.
Jacques Peacock, NDBV-woordvoerder, sê by navraag die direkteure het wel onlangs besluite oor die Tshwane- en Bethlehem-DBV geneem kragtens die Wet op die Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling (Wet. 169/1993) nadat bevind is hulle “oortree die wet”.
Corlene van der Merwe is van haar pos as voorsitter onthef nadat sy ’n perd in samewerking met ’n plaaslike veearts gered het. Foto verskaf
Hoewel hierdie besluite nodig was om die wetlike standaarde en verpligtinge te handhaaf, het die Tshwane-DBV-raad en die Bethlehem-DBV-bestuurskomitee regsverteenwoordiging betrek om dit te betwis.
Tshwane het ’n dringende aansoek om ’n hofbevel by die hooggeregshof ingedien, en die aangeleentheid is op 19 en 20 November aangehoor. Regter SM Wentzel het die afgelope week ten gunste van Tshwane beslis.
Die brief van Bethlehem se DBV aan die minister van landbou waarin ingryping ingevolge artikel 16 van die wet versoek word, gee geen redelike gronde vir sodanige ingryping nie, meen Peacock. Ontevredenheid met die NDBV se besluite voldoen nie aan die wetlike drempel wat vereis word om die NDBV se raad van direkteure onbekwaam te verklaar om sy pligte kragtens die wet na te kom nie.
Al is Tshwane- en Bethlehem se DBV daarop geregtig om regsmiddels na te streef, is dit “jammer” dat hulle die pad van litigasie gekies het. Die NDBV verwelkom enige navrae deur die minister, en enigiemand anders vir die saak.
“Die NDBV is ’n statutêre liggaam en ons werk en besluite is in ooreenstemming met die wet. Die feit van die saak bly staan: Die betrokke DBV’s het die Wet oortree, nadat die NDBV behoorlike omsigtigheid gevolg het, en hulle is eenvoudig ontevrede met sulke optrede wat deur die Wet gelei word.
‘Die NDBV was uiters geduldig met albei’
“Dit is jammer dat hierdie individue vergeet dat die onderskeie DBV's deel vorm van 'n groter beweging, wat almal moet voldoen aan die standaarde wat ingestel is om die behoorlike funksionering van die DBV te verseker.
“Die NDBV was uiters geduldig met albei … DBV’s en het probeer om regstellende maatreëls te tref voordat (ons) ingevolge die wet opgetree het,” sê Peacock.
Nogtans bly die NDBV “ten volle daartoe verbind om sy statutêre verpligtinge na te kom en te verseker dat alle besluite in die beste belang van dierewelsyn geneem word, in ooreenstemming met die DBV-wet”.