On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vyfjarige van Noordwes huil oor gesin, maar speel en lag ook

───   KAREN VAN DER BERG 14:48 Thu, 23 Jan 2025

Vyfjarige van Noordwes huil oor gesin, maar speel en lag ook | News Article
Conrad en Jolene Meyer van Kathu met hulle seuntjies, Ivan (links) en Ivan. Foto verskaf

“Ons sal hom altyd herinner hoe lief sy ouers en boetie vir hom was. Ons sal hom verseker dat hulle trots is op alles wat hy in die lewe behaal. Ons het hom so lief soos ons eie.”

So sê die steeds geskokte Mariaan Eilerd oor die dood van haar suster, haar swaer en hulle babaseuntjie. Conrad Meyer (35), sy vrou, Jolene (32), en hulle babaseun van 18 maande, Juvan, is Sondag (19/01) dood toe hulle in ’n trompop botsing betrokke was. 

Net die egpaar se oudste kind, Ivan (5) het die ongeluk op die N14 buite Vryburg oorleef.

Ivan bly by Eilerd en haar gesin op ’n plaas in die omgewing van Glaudina. Die Meyer-gesin, van Kathu in die Noord-Kaap, het hier gekuier voor die ongeluk gebeur het.

Die seer is ondraaglik

Eilerd sê dit gaan onder die omstandighede goed met Ivan. “Hy speel en lag, maar die verlange is baie en die trane nog meer. Die herinneringe help hom hierdeur.”

Sy sê hulle is nog besig om begrafnisreëlings te tref. Dit sal op Olifantshoek in die Noord-Kaap plaasvind.

Die seer wat hulle ervaar is ondraaglik, sê sy. “Jolene was ’n sterk mens en niks het haar ondergekry nie. Sy het die lewe sonder huiwering aangevat.”

Klein Juvan saam met sy pa, Conrad. Hulle is albei in die ongeluk dood. Foto: Facebook

Sy beskryf Conrad as ’n “dierbare” mens. Die lekkerste was as sy hom laat bloos het as sy hom genoem het wat haar sussie hom genoem het: My engel. “Maar dit is presies wat hy was.”

Juvan “was ons liefste klein wonderwerk en vegtertjie. Ons het hom almal so liefgehad.”

Eilerd sê die Meyer-gesin, wat die laaste paar jaar ’n moeilike pad gestap het, het diep spore in baie mense se hart gelos. Juvan is op 30 weke gebore en Jolene het destyds gesê sy het ’n moeilike swangerskap gehad.

Pampoenoes geskenk

Juvan het ook aan sistiese fibrose en dermatresie gely. Hy het talle operasies in sy kort lewe ondergaan. Eilerd sê dit het die laaste paar maande beter gegaan.

OFM Nuus het verlede jaar oor die Meyer-gesin berig toe vriende besluit het om hulle pampoenoes aan die Meyers te skenk. Tilene en Michiel Kriel, wat in die distrik Griekwastad boer, en hulle vier kinders het besluit om hulle pampoenoes van verlede jaar te verkoop en die geld aan klein Juvan te skenk.

’n Kettinggroep groente-en-vrugtewinkels het van die storie gehoor en die pampoene by die Kriel-gesin gekoop, wat die geld toe op hulle beurt weer vir Juvan se mediese onkoste geskenk het.

Die Kriel-gesin met hulle pampoenoes (van links): Marthinus (6), Dawid (8), Charlene (9), Tilene en Michiel. Die driejarige Gielie het voor op ’n pampoen gesit. Foto verskaf

Tilene en Jolene was van laerskooldae af vriendinne. Tilene sê sy is so hartseer oor hulle dood. “Dit is ’n vreeslike skok en soos dit maar menslik is, wil ons altyd vra hoekom en wat is die doel daarin.

“Ek kan nie onthou dat Jolene deur alles wat hulle deur gegaan het, ooit gevra het wat die doel is nie. Dit het altyd geklink asof sy op God vertrou dat sy wil sal geskied maak nie saak wat na hulle kant toe kom, al was hulle soms moedeloos en gefrustreerd. Ek dink ons kan almal iets leer daaruit.”

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.