On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

‘Watervermorsing in Vrystaat ’n misdaad’

───   10:53 Thu, 23 Jan 2025

‘Watervermorsing in Vrystaat ’n misdaad’ | News Article
Die Vrystaat mors water vir Afrika. Foto ter illustrasie

Dit is ’n misdaad om water op dié skaal in ’n waterskaars provinsie te vermors terwyl inwoners deur gereelde wateronderbrekings geteister word, voer die VF Plus in die Vrystaat aan.

Vrystaatse munisipaliteite het die afgelope sewe jaar R3,7 miljard se water verloor weens lekkasies en onwettige aansluitings.

Saki Mokoena, LUR vir korporatiewe bestuur en tradisionele sake, het onlangs die persentasie water wat 18 munisipaliteite verloor het, asook die ooreenstemmende randwaardes, uitgestippel. Die versoek om inligting is deur Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid, gerig.

Die VF Plus meen watervermorsing vind hoofsaaklik plaas weens verswakkende infrastruktuur en swak instandhouding. Sommige munisipaliteite verloor meer as 80% van hul water.


Tussen die boekjare 2016/2017 en 2022/2023 het 18 munisipaliteite aansienlike waterverliese aangemeld, wat bygedra het tot die inkomsteverlies van R3,756 miljard. Hierdie munisipaliteite kry water van die Vaal-Sentraal-waterraad, maar baie versuim om verbruikers reg te faktureer. 

Die VF Plus berig dat die raad R10 miljard deur munisipaliteite geskuld word.

Die ergste oortreders sluit in Matjhabeng, wat byna ’n derde van die provinsie se skuld verantwoordelik was, wat R2,3 miljard se water kwyt is. 

‘Munisipaliteite word kwartaalliks gemonitor’

Mafube-munisipaliteit het in die 2020/2021-boekjaar tot 96% van sy faktureerbare water verloor. Verskeie ander munisipaliteite, waaronder Tokologo, Letsemeng en Moqhaka, het in sommige jare verliese van meer as 70% gerapporteer.

“Verskeie Vrystaatse dorpe het nie water gedurende die feestyd gehad nie omdat infrastruktuur nie die afgelope 30 jaar in stand gehou of opgegradeer is nie,” sê Cloete.

Mokoena het in reaksie daarop beklemtoon dat munisipaliteite kwartaalliks gemonitor word. Enige munisipaliteit wat meer as die helfte van sy water verloor, word geag te misluk.


Dit is bemoedigend dat meer as die helfte van die munisipaliteite verbeterings getoon het. Vyf se verliese is minder as 30%.

Die LUR het ook opgemerk dat nasionale departemente inspring om herstelwerk te finansier deur die waterdienste-infrastruktuurtoekenning, met die doel om tekortkominge in die provinsie se waterstelsels aan te spreek en dienslewering te verbeter.

Die VF Plus het vandeesweek ’n oorsigbesoek gebring aan Bothaville se rioolsuiweringsaanleg nadat dit onder die party se aandag gekom het dat die aanleg se chloorstelsel onklaar is.


“Talle dorpe in die Vrystaat besoedel tans riviere met ongesuiwerde riool, en Bothaville is geen uitsondering nie. Die wanfunksionele chloorstelsel verhinder dat riool behoorlik gesuiwer word voordat dit in waterbronne beland,” sê  Dian Botha, Nala-VF Plus-raadslid.

Die VF Plus het reeds in ’n brief aan Scotch Lehloenya, Nala se munisipale bestuurder, daarop aangedring dat die stelsel dringend herstel word.


“Die munisipaliteit het voorheen die  nasionale departement van water en sanitasie versoek om die stelsel aan te pas sodat chloortablette, wat makliker beskikbaar is, gebruik kan word. Tot op hede is geen daadwerklike stappe geneem om dit te doen nie.”

Cloete het Mokoena versoek om dringend in te gryp. “Hierdie gebrek aan basiese instandhouding en beskerming van hulpbronne is ’n ernstige verontagsaming van inwoners se reg op skoon water. 

“Die gesondheid en waardigheid van die publiek is nie onderhandelbaar nie. Waterbronne moet  beskerm word in belang van alle gemeenskappe,” het Botha op Facebook geskryf.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.