On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte eindelik vas ná aanval op ma, seun van Harrismith

───   11:27 Thu, 23 Jan 2025

Verdagte eindelik vas ná aanval op ma, seun van Harrismith | News Article
Die verdagte is op Harrismith aangekeer. Foto: Facebook

Polisie in die Oos-Vrystaat het eindelik ’n verdagte aangekeer ná ’n aanval op ’n ma en seun van Harrismith waarin die seun dood is. Sy makkers is egter steeds op vrye voet.

Vyf maande ná die skietery het beamptes ’n deurbraak gemaak toe die verdagte Maandag (20/1) vir moord en poging tot moord in hegtenis geneem is. Neo Ntamane (27) is in Augustus om die lewe gebring, terwyl sy ma, Ntsebeng Mokhethi-Ntamane (52), steeds in die hospitaal aansterk.

Die verdagte (33) het Woensdag (22/1) in die plaaslike landdroshof verskyn toe die saak uitgestel is tot Dinsdag (28/1) sodat hy om regshulp aansoek kan doen, sê Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Op die dag van die skietery het Ntamane en sy meisie om 21:18 met hul Renault Kwid van Intabazwe na hul woonplek in die township Tshiame B gery. Onderweg het hulle opgemerk hoe ’n enkelkajuitbakkie hulle agtervolg.

Verdagte se makkers is nog op vrye voet. Foto: Facebook

“Met hul aankoms het hy die hek vir sy meisie oopgemaak sodat sy solank in hul kamer kon ingaan om die lig aan te skakel,” sê Mophiring. “Skielik het sy opgemerk hoe dieselfde bakkie stadig verbyry. Ntamane was steeds in sy motor buite die hek.

“Die volgende oomblik het sy skote gehoor en gesien hoe Ntamane vir skuiling hardloop; hy het egter op die grond geval. Sy het na die hoofhuis gehardloop, waar sy Ntamane se ma, Ntsebeng, met ’n skietwond in die kop aangetref het. Sy het swaar gebloei.”

‘Verdagte op Harrismith aangekeer danksy wenke van publiek’

Die onbekende verdagtes het van die misdaadtoneel met Ntamane se Renault Kwid en sy selfoon gevlug.

Nooddienspersoneel het met die ma na die plaaslike hospitaal gehaas. Haar seun is op die toneel dood verklaar. Sy ma word ná maande steeds in die hospitaal vir haar beserings behandel.

Mophiring sê die verdagte is op Harrismith aangekeer danksy wenke van die publiek.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.