On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse polisie soek verdagte ná taverneskietery

───   15:22 Tue, 21 Jan 2025

Vrystaatse polisie soek verdagte ná taverneskietery | News Article
Foto ter illustrasie

Die polisie is op soek na ’n moordverdagte, wat ’n besoeker aan ’n kuierplek op die Vrystaatse Goudveld doodgeskiet het.

Beamptes is Dinsdag (21/1) kort ná middernag na ’n taverne in Thabong ontbied, waar hulle die slagoffer in ’n plas bloed aangetref het, sê kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder. Die 32-jarige het veelvuldige skietwonde aan sy kop en liggaam opgedoen. 

Ooggetuies vertel hoe die slagoffer laat Maandagaand die taverne binnegehardloop het met ’n onbekende, gewapende swart man kort op sy hake.

Vlug in VW Polo

“Die verdagte het ’n pet en ’n blou oorpak gedra en sy gesig met ’n lap verberg,” sê Earle. Toe hy die taverne binnegaan, het hy talle skote op die slagoffer geskiet en hom daarna in ’n silwer Volkswagen Polo uit die voete gemaak.

Sy slagoffer is op die toneel dood verklaar. Die polisie se ondersoek duur voort.

Enigeen met inligting wat die polisie kan help om die verdagte aan te keer, word gevra om Thabong se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad te nader by 060 985 9276 or Stop Misdaad by 08600 10111. Gee wenke naamloos deur op die MySAPS-app.

Rusie in kuierplek

Begin vandeesmaand is ’n man van Winburg in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy pa om die lewe gebring het ná ’n rusie in ’n taverne.

Die man (21) en sy pa (42) het omstreeks 11:00 op Nuwejaarsdag (1/1) in ’n taverne gekuier toe hulle blykbaar stry kry, het sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, destyds gesê.

Na bewering het die jong man sy pa ’n noodlottige borswond toegedien. Die slagoffer is na ’n hospitaal geneem waar hy later beswyk het. Hospitaalpersoneel het die polisie ontbied, wat ’n moordsaak geopen het.

Ná voorlopige ondersoeke is die 21-jarige in hegtenis geneem op aanklag van moord.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.