Central SA
Geen kontrakteur in sig om R507 in Noordwes te voltooi─── 09:18 Tue, 21 Jan 2025
Van die provinsiale regering se belofte dat herstelwerk aan die verwaarloosde pad tussen Geysdorp en Delareyville einde verlede jaar voltooi sou gewees het, het tot dusver dadels gekom.
Noordwes se departement van openbare werke het reeds R150 miljoen aan die opknapping van die sowat 25 km lange gedeelte van die R507 bestee.
“Tydens die DA se besoek … was daar geen kontrakteur op die perseel nie, terwyl boumateriaal langs die pad gestrooi gelê het,” sê Freddy Sonakile, provinsiale DA-woordvoerder oor openbare werke. Die pad is onvoltooid, want sekere dele is geteer en ander is nog gruis.”
Moses Kgantsi (links), departementshoof van openbare werke in Noordwes, en die LUR vir openbare werke, Sempe Elizabeth Mokua (middel). Foto: Noordwes departement van openbare werke
Hy sê in November het Sempe Elizabeth Mokua, LUR van openbare werke, die versekering gegee die pad sou verlede maand geopen word. “Dit was ’n leë belofte, aangesien die pad steeds in ’n haglike toestand is.”
Inwoners en boere wat daagliks op dié pad staatmaak, spreek keer op keer hul kommer uit oor die pad se toestand, sê Sonakile. “Die kontrakteur het lankal die projek se gekontrakteerde tydraamwerk oorskry.
“Hoewel die departement onderbrekings die skuld gee vir die vertragings, het hy hom nogtans daartoe verbind om die pad teen Desember te voltooi.”
Boumateriaal staan langs die pad. Foto: DA
Sonakile sê die DA het die departement meermale oor die kole gehaal omdat kontrakteurs nie aanspreeklik gehou word vir slordige of onvoltooide werk nie. “In plaas daarvan word dieselfde kontrakteurs dikwels met nuwe kontrakte elders beloon, wat die provinsie se verbrokkelende padinfrastruktuur net vererger. Noordwes kan nie sulke nalatigheid bekostig nie.”
Die DA vra in ’n skrywe aan Mokua dat sy haar belofte gestand doen en verseker die pad word sonder verdere vertragings voltooi. “Dit is onaanvaarbaar dat, nadat R150 miljoen reeds bestee is, die projek geen tekens van vordering toon nie.”
In Julie het Mokua in haar begrotingsrede vir die 2024/25-boekjaar Noordwes tot ’n “bouperseel” verklaar nadat pad- en bouprojekte oraloor van stapel gestuur is.
“Daar is ’n dringende behoefte (aan) verbeterde paaie en openbare geriewe dwarsoor die provinsie … om ekonomiese groei aan te wakker en dienslewering op te skerp,” het sy in haar toespraak gesê.
Freddy Sonakile van die DA by die onvoltooide R507 in Noordwes. Foto: DA
“Die departement doen ’n reuse stap om Noordwes te omskep en dit tot ’n konstruksieterrein te verklaar. Ons verbind ons tot aansienlike infrastruktuurverbeterings, wat ekonomiese groei sal aanvuur en die lewenstandaarde van ons gemeenskappe sal verhoog.”
Sy het gesê projekte word vir al die distrikte beplan sodat die platteland en boerderygebiede ingesluit word en niemand oorgesien word nie.
“Ondanks begrotingsbesnoeiings is ons vasbeslote om meer te lewer met die minder wat aan ons toegeken is sonder om dienslewering te belemmer,” het sy belowe en gevra inwoners moet met die departement en kontrakteurs saamwerk deur nie projekte te ontwrig nie.
Geen kontrakteur is in sig om die R507 in Noordwes te voltooi nie. Foto: DA
“Ons sal onsself beskikbaar stel vir onderhandelings in geval van geskille. Kom ons werk saam om ons provinsie te ontwikkel,” het sy gesê.
Mokua en Moses Kgantsi, departementshoof, het verlede week (13/1) die Kromkruil-brug en die nedersetting Tlholwe in die Morete-munisipaliteit besoek waar swaar reën die brug en pad beskadig het.
Die departement sal ingenieurs en tegnici in al die vier provinsiale distrikte ontplooi om beskadigde infrastruktuur te ondersoek, het Mokua gesê. “Ná ’n voorlopige verslag sal aansoek gedoen word om rampfondse van die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake.”