Central SA
Jong Downsindroom-lyer van Vanderbijlpark boer in hospitaal─── KAREN VAN DER BERG 16:18 Tue, 21 Jan 2025
Dit is ’n swaar pad vir die familie met soveel uitdagings.
So vertel Krystle Holl van Vanderbijlpark oor haar seun, Kegan Holl (17), ’n Downsindroom-lyer wat vanaf sy geboorte die een terugslag ná die ander met sy gesondheid beleef.
Hy is juis weer sedert einde Desember in die hospitaal.
Krystle vertel Kegan was maar ’n babatjie toe hy brongiale longontsteking opgedoen het. Die tweede terugslag was toe hy 18 maande oud was en hulle met ’n skok bewus raak dat hy verlam is. ’n Gewas weens kiemselkanker het teen sy rugwerwels gedruk.
Kegan Holl, ’n Downsindroom-lyer. Foto verskaf
Ná ’n felle stryd en vele chemoterapiesessies is Kegan eindelik kankervry verklaar. Hy is wel nog verlam en het voltydse versorging nodig.
“Ons is einde Desember met hom na die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg. Sy buik en sy bene en hande was verskriklik geswel, dubbel die grote wat dit moet wees.”
Krystle sê hy is vir infeksie behandel. Dit was ook nie die einde van die mediese probleme nie. Toetse het gewys hy het ook slaapapnee en skildklierprobleme.
Kegan Holl, ’n Downsindroom-lyer. Foto verskaf
Die infeksie het ook sy longe beskadig, en hy moes ’n suurstofmasjien kry. “Ons is dankbaar dat daar weldoeners is wat ons gehelp het om die masjien aan te skaf,” vertel Krystle.
Kegan moet egter nog in die hospitaal bly vir toetse en waarneming, maar sy behandeling het sy ouers platsak gelaat. Hulle kan nie meer byhou met al die uitgawes nie. Hy moet ook ’n nuwe rolstoel kry.
Kegan Holl, ’n Downsindroom-lyer. Foto verskaf
Hulle is dankbaar dat hulle soms by familie in Alberton kan bly om nader aan Kegan te wees. “Die petrolonkoste is steeds hoog en my man moet elke dag vroeër van die werk af vat om my daagliks hospitaal toe en terug te neem, omdat ek nie ’n lisensie het nie,” vertel Krystle.
“Dit is ’n baie moeilike pad vir ons om met Kegan te stap. Daar is soveel terugslae en mediese onkoste reg deur sy lewe.”
Sy bly nogtans dankbaar vir al die hulp en ondersteuning wat hulle met die jare uit die gemeenskap kry.