On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Politieke partye eis ondersoekkommissie ná Stilfontein-myntragedie

───   11:03 Mon, 20 Jan 2025

Politieke partye eis ondersoekkommissie ná Stilfontein-myntragedie | News Article
Reddingsoperasie onderweg by Stilfontein. Foto: Facebook

Verskeie politieke partye dring aan op ’n kommissie van ondersoek nadat die liggame van 78 onwettige mynwerkers uit die ongebruikte skag 11 van die Buffelsfontein-myn by Stilfontein gehaal is.

Talle van die 246 zama-zamas wat na die oppervlak gebring is, was in ’n verswakte toestand weens honger en ontwatering. Nege word onder polisiebewaking gehospitaliseer.

Lewensgevaarlike, onmenslike toestande

“Geen mens moet aan lewensgevaarlike en onmenslike toestande onderwerp word nie,” sê Pakes Dikgetsi, Cope-politikus. 

“Die grusame en afgryslike foto’s en inligting wat nou na vore kom, beeld ’n regering uit wat daarop ingestel is om hongersnood, ontmensliking en ander geweldsvorme te gebruik, terwyl desperate mense ’n bestaan probeer voer (diep onder) die aarde.”


James Lorimer, DA-LP, benadruk in ’n skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa die “dringende behoefte” aan ’n omvattende ondersoek na die Stilfontein-gebeure. “Die humanitêre ramp het aansienlike aandag getrek, binnelands sowel as buitelands,” sê hy.

Die DA vra dat die rol van regeringsagentskappe, veral wetstoepassers en die departement van minerale hulpbronne, wat verantwoordelik is vir die bestuur en bekamping van onwettige mynbedrywighede, ondersoek word.

‘Voorkomende maatreëls moet ondersoek word’

“Die betrokkenheid van die privaat sektor, die oorsaak van die krisis, die uitwerking van zama-zamabedrywighede, die regering se optrede in reddingsoperasies en watter voorkomende maatreëls getref kon word, moet onder die soeklig geplaas word.”

Die mynkrisis skets ’n donker prentjie van “die onbevoegdheid van wetstoepassing, die mislukking van intelligensiedienste en die ontmensliking van swart en ongedokumenteerde individue in Suid-Afrika”, meen die EFF.

“Die hof se ingryping bewys dat alternatiewe benaderings wat menseregte respekteer en gemeenskapsbetrokkenheid behels, uit die staanspoor aangewend kon en moes gewees het. Pleks daarvan het die regering se weiering om vroeër op te tree onnodige lyding en lewensverlies tot gevolg gehad.”

Komitee wil staat van moord aankla

Christopher Rutledge van die Stilfontein-krisiskomite beweer amptenare se opmerkings dui daarop dat die mynwerkers “aan hul eie genade oorgelaat gaan word”. 

Hy sê die komitee oorweeg ’n aantal regsopsies, insluitend om individue en die staat van moord aan te kla.

Intussen beskuldig die vakbond Giwusa die regering en polisie van ’n “staatsgeborgde slagting” wat 78 mense se lewe gekos het. Hy beweer die polisie het ’n skag ná die voltooiing van die reddingsoperasie gebombardeer, maar die owerheid ontken dit ten sterkste.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.