Central SA
‘Gevaarlike’ leier van onwettige Stilfontein-myners ontsnap─── 12:01 Mon, 20 Jan 2025
Noordwes-polisie soek hoog en laag na die voortvlugtige leier van die onwettige mynwerkers op Stilfontein en vermeende korrupte polisiebeamptes wat hom na bewering bygestaan het.
James Neo Tshoaeli, ’n Lesotho-burger wat ook as Tiger bekendstaan, het glo ontsnap nadat hy saam met ander onwettige mynwerkers uit die Buffelsfontein-goudmyn gered is. Hy het nooit by enige van die polisiekantore aangekom waarheen sy makkers geneem is nie.
Hy is ook in geen hospitaal vir mediese behandeling opgeneem nie, al was hy deurentyd onder polisebewaking.
Die polisie gebruik al die hulpbronne tot hul beskikking om Tshoaeli op te spoor en in hegtenis te neem, sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder. Sy voeg by die polisiebeamptes wat hom help ontsnap het, sal aan die man gebring word.
James Neo Tshoaeli, ’n Lesotho-burger wat ook as Tiger bekendstaan. Foto verskaf
“Die verdagte word van aanranding, marteling en die opgaar van kosvoorrade beskuldig en word as uiters gevaarlik beskou. ’n Uitgebreide soektog is onderweg om die beamptes op te spoor wat met sy ontsnapping iewers tussen Skag 11 en die Stilfontein-polisie se aanhoudingselle gehelp het.”
Tshoaeli is in verskeie verklarings geïdentifiseer as een van die voorbokke wat bedrywighede ondergrondse in die Buffelsfontein-myn beheer het, sê Mathe. “Sommige onwettige mynwerkers beskuldig hom ook daarvan dat hy na bewering verantwoordelik is vir sommige van die werkers se dood, aanranding en marteling.”
Die polisie sê hulle het video’s bekom wat dié aantygings kan bewys. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy kos opgegaar en weerhou het van ander mede-zama-zamas.
#sapsHQ Police launch manhunt for Stilfontein underground kingpin, a Lesotho national, James Neo Tshoaeli, commonly known as TIGER, who resurfaced from shaft 11 in Stilfontein last week. TIGER is a fugitive of justice and is considered dangerous.
— SA Police Service ???? (@SAPoliceService) January 20, 2025
Members of the public are… pic.twitter.com/1Ob0G7CTmG
Tshoaeli se ontsnapping is “ ’n verleentheid” vir die polisie se Operasie Vala Umgodi, sê genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, wat sy teleurstelling oor die voorval uitspreek. Dié operasie wil onwettige mynboubedrywighede uitroei.
Asaneng gee die versekering dat diegene wat vir Tshoaeli se ontsnapping verantwoordelik is, aan die pen sal ry.
“Tshoaeli is ’n voortvlugtige en word as gevaarlik beskou. Lede van die publiek word aangeraai om enige inligting rakende sy bewegings met die Stilfontein-polisiekantoor te deel.”