On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat se topmatrikulante van 2024 onder luide applous vereer

───   KAREN VAN DER BERG 13:10 Fri, 17 Jan 2025

Vrystaat se topmatrikulante van 2024 onder luide applous vereer  | News Article
Die feesvieringe is by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie gehou en die 131 leerlinge van 2024 matriekklas se toppresteerders in verskillende kategorieë is genooi om dit by te woon. Foto: Karen van der Berg

Onder luide applous en Tina Turner se bekende Simply the Best, is dr. Mantlhake Maboya, die Vrystaatse LUR vir onderwys, Vrydag toegejuig toe sy die matriekklas van 2024 by die departement se Welgedaan-geselligheid gelukgewens het.

Die funksie is by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) gehou en 131 leerlinge van 2024 se matriekklas se toppresteerders in verskillende kategorieë is genooi om dit by te woon. 

Die premier, MaQueen Letsoha-Mathae, ander lede van die provinsiale regering, skoolhoofde, verteenwoordigers van politieke partye en ouers en familielede het die funksie in die stampvol Boet Troskie-saal bygewoon.

Die Vrystaat spog met die beste matriekuitslae landwyd met ’n slaagsyfer van 91%.


Maboya sê die Vrystaat se slaagsyfer, wat vir die sesde agtereenvolgende jaar die beste in die land is, is in lyn met die onderwysdepartement se leuse: Geen kind word agtergelaat nie.

“Ek wil dit graag beklemtoon dat ons met niemand anders in kompetisie is nie, maar slegs elke jaar probeer verbeter.”

Sy sê die uitslae is wel uitsonderlik omdat die jaargroep hulle hoërskoolloopbane in die jaar van die Covid-pandemie (2020) begin het. “Julle moet weet dat julle ’n baken van hoop vir ons provinsie is. En vir Suid-Afrika, Julle toekoms begin nou met eindelose moontlikhede. Gryp dit aan.”

Die woordvoerder van die onderwysdepartement, Howard Ndaba, by die funksie. Foto: OFM

Sy is wel bekommerd oor die groot hoeveelheid leerlinge in die provinsie wat voor hulle matriekjaar die skool verlaat. “Die uitvalsyfer bly ’n groot kommer en dit is iets wat daadwerklike aandag moet kry.”


Die woordvoerder, Howard Ndbaba, het die provinsie se toppresteerder, Susan Bender, om verskoning gevra vir die “tegniese fout” wat veroorsaak het dat sy nie na die perskonferensie vroeër die week genooi is nie.

OFM Nuus het berig dat Bender nie genooi is na die konferensie Dinsdag (14/1) nie, waartydens die departement 2024 se top 10-leerlinge aangekondig het.

Ndaba het gesê dit is op baie kort kennisgewing gehou en haar skool kon nie betyds bereik word nie. 

“Ons vra onvoorwaardelik om verskoning en wil dit beklemtoon dat ons verskriklik trots op haar is. Ons ondersteun haar toekomsplanne. Sy is ’n verteenwoordiger van die Vrystaat en ons is ongelooflik trots op haar prestasies.”

Bender, van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, het onderskeidings in al sewe haar vakke behaal met ’n gemiddeld van 96%. Sy was ook die onderhoofdogter. Sy het die geselligheid Vrydag bygewoon en was in ’n goeie luim.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.