Central SA
Noord-Kaapse gemeenskap hartseer ná dood van Joe Morolong-raadslid─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:58 Sun, 12 Jan 2025
Boodskappe van medelye stroom steeds in vir die familie en vriende van ’n raadslid van die Joe Morolong-munisipaliteit in die Noord-Kaap.
Die munisipaliteit bedien Hotazel, Santoy, Van Zylsrus, Avon en Baily Brith. Kealeboga Emelda Maamogwa (56) is Sondag (12/1) ná ’n lang siekte oorlede.
Dineo Leutlwetse-Tshabalala, burgemeester, het haar innige meegevoel met Maamogwa se familie betuig. “Ons het met groot hartseer verneem van die dood van raadslid Kealeboga Emelda Maamogwa.
“Sy het gedien as ’n raadslid van Wyk 1 in Joe Morolong en sal onthou word as ’n selfgedrewe en toegewyde leier wat daartoe verbind was om die lewe van mense te verbeter – veral dié in landelike gemeenskappe. Mag haar siel in vrede rus.”
Kollegas en gemeenskapslede het Maamogwa as ’n passievolle mens beskryf. “Sy was vol lewe en ’n raadslid wie se energie diegene rondom haar geïnspireer het," sê Dineo Leserwane.
Tiisetso Manoko sê hy het haar in 2023 in Sisipi ontmoet en sy was ’n lieflike mens wat baie mense se lewe aangeraak het.
Maamogwa se dood kom kort ná die afsterwe van nog ’n Noord-Kaapse leier. Nompumelelo Evelyn Lubidla is Saterdag (11/1) in Kimberley ter ruste gelê.
Lubidla, ’n voormalige senator in die parlement van 1994 tot 1996 en 'n lid van die Nasionale Raad van Provinsies van 1997 tot 2004, was instrumenteel in die opstel van Hoofstuk 2 van Suid-Afrika se Grondwet. Sy was ’n kampvegter van geregtigheid en gelykheid.
Maruping Lekwene, LUR vir gesondheid, by die begrafnis van Nompumelelo Evelyn Lubidla (86). Foto: Facebook
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg dg