On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nikki
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Bethlehem: Voormalige munisipale amptenaar aangekeer ná beweerde tenderbedrog

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:25 Sat, 11 Jan 2025

Bethlehem: Voormalige munisipale amptenaar aangekeer ná beweerde tenderbedrog | News Article
’n Voormalige tegniese bestuurder sal binnekort in die hof op aanklag van bedrog verskyn. OFM Nuus

’n Voormalige tegniese bestuurder (31) van die Dihlabeng-munisipaliteit is Vrydag (10/1) deur die Valke in Bethlehem in hegtenis geneem.

Hy sal Maandag (13/1) in die Bethlehemse landdroshof op aanklagte van bedrog en vervalsing verskyn. Zweli Mohobeleli, Vrystaatse Valkewoordvoerder, sê die ondersoek het in Januarie verlede jaar begin nadat die Valke inligting ontvang het oor onreëlmatighede in die tender van R9,8 miljoen vir die opgradering van watervoorsiening in Clarens.

“Na bewering het die finansiële beampte van die Dihlabeng-munisipaliteit ’n betaling goedgekeur vir die diensverskaffer gegrond op die verslag wat deur die tegniese bestuurder verskaf is. Daar is later ontdek die handtekening van die siviele ingenieur in die verslag is glo deur die verdagte vervals,” sê Mohobeleli.

Hierdie inhegtenisneming volg op ’n reeks korrupsiesake wat senior amptenare by die munisipaliteit betrek. In Augustus 2023 is drie senior amptenare aangekeer omdat hulle die munisipaliteit met miljoene rand bedrieg het.

Thabang Johannes Thinyane (43), 'n diensverskaffer, Ntokozo Erick Shabalala (43), ’n direkteur, en Lekgetho Isaac Mokgathle (53), munisipale bestuurder, is in hegtenis geneem op aanklag van bedrog, het IOL berig. Dit het gevolg ná ’n wenk van die Vrystaatse premier se kantoor oor bewerings van bedrog wat met die munisipaliteit verbind word. Daar is beweer dat Mokgathle en Shabalala Thinyane onreëlmatig as ’n diensverskaffer aangestel het om dieselkragopwekkers by watersuiweringswerke by die Saulspoortdam te verskaf en te installeer sonder om behoorlike prosesse te volg.

Die projek sou glo R7,2 miljoen beloop, maar die diensverskaffer het slegs ’n blad op die terrein opgerig en die munisipaliteit R611 000 vir die onvoltooide werk gevra.

OFM Nuus/ Kekeletso Mosebetsi dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.