On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

‘Onvoldoende bewyse’ hou Noordwes-vrou uit hof ná kind sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:34 Wed, 01 Jan 2025

‘Onvoldoende bewyse’ hou Noordwes-vrou uit hof ná kind sterf | News Article
Die bestuurder van die Amarok is op die toneel in hegtenis geneem. Foto: SAPD

Die vrou van Noordwes wat op Kersdag in hegtenis geneem is vir dronkbestuur, se saak het nog nie voorgekom nie weens “onvoldoende bewyse”.

Die 29-jarige sou Maandag (30/12) in die Brits-landdroshof verskyn het nadat sy op Kersdag ’n ma en haar twee kinders in Kosmos, naby Hartbeespoort, raakgery het. ’n Vyfjarige het gesterf en haar babasussie en ma is ernstig beseer.

Tshegofatso Makhudu, NVG-woordvoerder, sê die bewyse teen die verdagte is “onvoldoende”.

‘Paramedici het die vyfjarige op die toneel dood verklaar’

OFM Nuus het voorheen berig die verdagte het omstreeks 18:00 op 25 Desember ’n swart Volkswagen Amarok bestuur toe sy met die voertuig ’n ma en haar twee kinders in Simon Bekkerlaan, naby Caribbean Beach Estate, raakgery het.

“Paramedici het die vyfjarige op die toneel dood verklaar,” het kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, gesê.

Die ma word op die toneel gestabiliseer voor sy hospitaal toe geneem is. Foto: Kormorant

Die babasussie, wat tydens die ongeluk deur die ma (22) gedra is, is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem, terwyl die ma vir ernstige kopbeserings behandel word. Myburgh het bevestig die ma is steeds in die hospitaal en kon nog nie ’n volledige verklaring aan die polisie lewer nie.

Luidens die gemeenskapskoerant Kormorant, was die impak van die ongeluk so erg dat die vyfjarige se arm van haar liggaam geruk was is.

‘Gemeenskapslede het bakstene deur die vensters gegooi’

Nadat die vermeende dronkbestuurder se voertuig teen ’n muur voor ’n ander landgoed tot stilstand gekom het, het gemeenskapslede na bewering op haar afgestorm terwyl sy probeer vlug het, berig Kormorant.

’n Ooggetuie beweer sy was onvas op haar voete. 

“Gemeenskapslede het haar terug na die ongelukstoneel gesleep. Gemoedere het hoog geloop. Sy is terug in die voertuig ingedruk en gemeenskapslede het bakstene deur die vensters gegooi.

Gemeenskapslede drom saam om die voertuig wat in ’n ma en haar twee kinders vasgery het. Foto: Kormorant

“Sy het weer uitgekom en oor die pad gehardloop terwyl sy om hulp geroep het,” sê die ooggetuie. “Die skare het haar weer teruggesleep. Die situasie het handuit geruk, en veiligheidsbeamptes van die landgoed het met haar weggery in ’n gholfkarretjie tot die polisie opgedaag het.”

Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en aangekla van bestuur onder die invloed van drank of dwelms met narkotiese effekte, asook strafbare manslag.

Volgens Makhudu sal ’n dagvaarding aan die beskuldigde beteken word wanneer die nodige bewyse ontvang is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.