On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Vaaldriehoek-man wag weke op operasie, mis baba se geboorte

───   KAREN VAN DER BERG 09:54 Fri, 03 Jan 2025

Vaaldriehoek-man wag weke op operasie, mis baba se geboorte | News Article
Liam en Juanita Jacobs van Vanderbijlpark. Foto verskaf

’n Man van Vanderbijlpark wat al langer as drie weke in erge pyn in ’n staatshospitaal op ’n operasie wag, het boonop die geboorte van sy babaseuntjie misgeloop.

Liam Jacobs (28) was Maandag 9 Desember op sy motorfiets op pad na sy werk as verkoopsverteenwoordiger by ’n batteryhandelaar toe ’n minibus, wat passasiers afgelaai het, na bewering onverwags voor hom inswaai, sê sy tannie Mariëtte Schlebusch. Hy is getref en het sy heup gebreek.

Liam Jacobs van Vanderbijlpark wag sedert 9 Desember op ’n operasie. Foto verskaf

“Liam kan nie ’n mediese fonds bekostig nie en is na die Sebokeng-staatshospitaal geneem. Hy moet ’n operasie kry, maar daarvoor moet hy na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word,” vertel Schlebusch.

“Dié hospitaal het laat weet hulle is vol en hulle sal Liam eers kan help wanneer daar weer ’n plek oopgaan.” Intussen moet Liam erge pyn verduur. “Hy moes ook ’n kateter kry omdat dit vir hom te seer is om te urineer. Dit gaan nie goed met hom nie.”

Op die X-straal kan gesien word hoe sleg sy heup gebreek het. Foto verskaf

Tot oormaat van ramp is Liam en sy vrou, Juanita, se babaseuntjie, Chandro, op 21 Desember gebore. Hy het ook ’n sesjarige dogter, Madison.

“Hy kan nie sy nuwe baba gereeld sien nie en word nou ook ontneem daarvan om ’n band met hom te vorm,” vertel Schlebusch. Dis vir hom baie swaar.

Mariëtte sê Liam vrees hy kan sy werk verloor omdat hy nie soveel siekverlof het nie. “Hy is nou reeds langer as drie weke (in die hospitaal) met geen antwoorde oor wanneer hy geopereer sal kan word nie. Hy mis sy kinders verskriklik, veral die een wat hy nog nie eens kon leer ken nie.”

Liam en Juanita se babaseuntjie, Chandro, is op 21 Desember gebore. Foto verskaf

Hy is ook neerslagtig, want sy pyn is ondraaglik.

Die familie het intussen uitgevind opname en ’n operasie in ’n private hospitaal sal R150 000 kos, maar as hy ná die operasie in die hoësorgeenheid behandel moet word, styg die koste tot R350 000.

Hulle het aanlyn ’n geldinsameling begin en doen ’n beroep op enigiemand wat kans sien, om iets te skenk. “Dit maak nie saak hoe klein dit is nie, enigiets sal help.”

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.