On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Man van Noordwes vermoor glo eks, neem eie lewe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:38 Fri, 03 Jan 2025

Man van Noordwes vermoor glo eks, neem eie lewe | News Article
Foto iStock

Die polisie in Mogwase, sowat 50 km noord van Rustenburg, ondersoek ’n moordsaak en ’n geregtelike doodsondersoek ná die ontdekking van twee liggame in die veld, sê lt.kol. Sam Tselanyane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die gru-ontdekking is Maandag (30/12) omstreeks 07:00 by die polisie aangemeld nadat inwoners van Lotwane wat deur die veld geloop het, op die liggame van die man en vrou afgekom het.

Volgens Tselanyane is die vrou, geïdentifiseer as Kefilwe Mosane (26), sonder klere langs ’n voetpaadjie in die veld met diep steekwonde aan haar nek aangetref. “Die slagoffer se klere en onderklere was in die veld weggesteek.”

Die man, uitgeken as Khumo Moatshe (38), het aan ’n boom gehang met ’n tou om sy nek.

Sonder klere langs ’n voetpaadjie

Tselanyane sê die polisie het intussen vasgestel die twee het saamgewoon, maar Mosane het na bewering die vorige week weens gevalle van gesinsgeweld uitgetrek. “Die verdagte het glo op die betrokke dag die slagoffer gaan haal omdat een van hul kinders onophoudelik gehuil het. Dit was die laaste keer dat sy lewend gesien is.”

Volgens die jongste verslag van die VN oor vrouemoord word ’n vrou of meisie elke tien minute in Afrika deur haar lewensmaat of ’n familielid vermoor. Sowat 60% van alle moorde word deur ’n lewensmaat of ander familielid gepleeg.

In die verslag “Femicides in 2023: Global Estimates of Intimate Partner/Family Member Femicides” word onthul die voorkoms van vrouemoorde – die mees ekstreme vorm van geweld teen vroue en meisies – bly wêreldwyd hoog.

60% van alle moorde deur ’n lewensmaat

Plaaslik is die bevindinge van die eerste pasgemaakte Suid-Afrikaanse studie oor die voorkoms van geslagsgeweld in al nege provinsies bekendgestel ’n week voor die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue op Maandag 25 November herdenk is.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het die eerste Suid-Afrikaanse Nasionale Studie oor Geslagsgeweld (2022) in Gauteng aan Sindisiwe Chikunga, minister van vroue, jeug en mense met gestremdhede, oorhandig en aan die publiek bekendgestel.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.