Central SA
Man in hof ná moord op Bethlehem-meisie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:43 Wed, 01 Jan 2025
’n Vrystater wat van moord aangekla word op ’n jong meisie, sal na verwagting Donderdag (1/1) in die hof verskyn.
Die man (50) van Bohlokong, Bethlehem, is Sondag (29/12) in hegtenis geneem ná die beweerde moord op ’n meisie (11) van sy buurt, sê ao. Mmako Mophiring, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Die man het na bewering Sondag omstreeks 10:30 die meisie na sy huis geroep en haar gevra om vir hom sigarette te koop.
‘Die moontlikheid van verkragting kan nie uitgesluit word nie’
“Na verneem word het die meisie die sigarette gaan koop en teruggekeer na die huis toe, onbewus van die man se beweerde voornemens.
“Die meisie se liggaam is later die dag naby ’n spoorlyn gevind met ’n oop wond aan haar nek. Die moontlikheid van verkragting kan nie uitgesluit word nie, maar ’n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word,” sê Mophiring.
Volgens Mophiring is die verdagte op die betrokke dag in hegtenis geneem. ’n Saak van moord word ondersoek en die verdagte sal in die Bethlehem-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Onvoldoende bewyse
In ’n ander saak het die vrou van Hartbeespoort wat glo ’n ma en twee kinders op Kersdag in Kosmos raakgery het, nie Maandag (30/12) in die Brits-landdroshof voorgekom nie.
Volgens Tshegofatso Makhudu, NVG-woordvoerder, is daar tans “onvoldoende bewyse”, en dis glo die rede waarom die saak nie op die hofrol geplaas nie.
Die bestuurder van die Amarok is op die toneel in hegtenis geneem. Foto: SAPD
OFM Nuus het vroeër berig die beskuldigde (29) word aangekla van strafbare manslag en dronkbestuur nadat sy na bewering op Kersdag (25/12) agter die wiel van ’n swart Volkswagen Amarok voertuig ’n ma en haar twee kinders in Simon Bekkerlaan naby Caribbean Beach Estate raakgery het
Paramedici het die vyfjarige op die toneel dood verklaar.
Makhudu sê wanneer die nodige bewyse ontvang word, sal ’n dagvaarding aan die beskuldigde beteken word.
OFM Nuus mvh