Central SA
Man steeds vermis ná boot omslaan by Allemanskraaldam─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:02 Wed, 01 Jan 2025
Die Vrystaatse polisieondersoek duur voort nadat ’n boot in die Aldam-vakansieoord omgeslaan het en ’n man steeds vermis word.
Die Winburg-polisie is Dinsdag (30/12) na die Aldam-vakansieoord ontbied nadat een van die mans op die boot glo verdrink en vermis word, sê sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder.
“Na bewering was daar vier mense op die boot. Die twee vroue het daarin geslaag om na die oewer te swem, terwyl nog ’n man (25) ernstige beserings opgedoen het en op die toneel dood verklaar is.”
Aldam-vakansieoord. Foto: caravansa
Volgens Kareli sal die polisie se duikeenheid hul ondersoek Donderdag (1/1) hervat nadat die soektog Woensdagaand (31/12) weens swak lig gestaak is.
By navraag het ’n persoon by die oord, wat anoniem wil bly, gesê hulle mag nie kommentaar oor die voorval lewer nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat meer as 300 000 mense jaarliks wêreldwyd weens verdrinking sterf, meer sterftes as wat deur motorongelukke veroorsaak word.
Na raming verdrink ongeveer 1 500 mense elke jaar in Suid-Afrika. Byna ’n derde hiervan is kinders onder 14 jaar.
Die polisie se waterveiligheidswenke. Bron: saps
Waterveiligheidswenke
- Moenie swem in riviermondings of vuil water nie
- Moenie vroeg soggens, vroeg saans of direk nadat dit gereën het swem nie.
- Moenie swem direk na ’n groot maaltyd nie.
- Swem slegs in aangewese areas.
- Moenie in kanale of riviere spring om ’n vriend of geliefde te red nie.
- Moenie onder die invloed van dwelms of alkohol swem nie.
- Kyk uit vir waarskuwingstekens of -vlae wat onveilige swemareas aandui – ’n rooi vlag beteken dit is gevaarlik om te swem.
‘As ’n kind vermis word, gaan kyk dadelik in die water’
- Bly uit damme, watergate en kanale.
- Moenie swem tydens storms of sterk winde nie.
- As ’n kind vermis word, gaan kyk dadelik in die water. Sekondes is van kardinale belang om verdrinking te voorkom.
- Moenie ooit ’n jong kind alleen naby water los nie.
- Moenie kinders verantwoordelik maak om ander kinders dop te hou nie.
- Leer kinders om toestemming te vra voordat hulle gaan swem.