On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Vrystaat: Verdagte kry borgtog ná skietvoorval

───   11:42 Sun, 22 Dec 2024

Noord-Vrystaat: Verdagte kry borgtog ná skietvoorval | News Article
Die jong man is op borgtog vrygelaat. Foto: OFM

Die seun van ’n Noord-Vrystaatse boer wat aangekla word van poging tot moord ná ’n skietvoorval sal in Februarie weer in die Heilbronse landdroshof verskyn.

Juan Scheepers (18) word daarvan beskuldig dat hy ’n plaaswerker in die heup geskiet het. Die hof het hom Dinsdag (17/12) op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel is, sê sers. Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Omstreeks 08:30 op Donderdag 12 Desember het plaaswerkers na wat verneem word geweerskote gehoor terwyl hulle op ’n plaas by Oranjeville gewerk het. Toe hulle ondersoek instel, het hulle gevind dat ’n man in die heup geskiet is. July Dlamini (59) is in ’n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem.

Die polisie se voorlopige ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van die verdagte – volgens Kareli die seun van die plaaseienaar. Die polisie het beslag gelê op die vuurwapen wat na bewering in die voorval gebruik is.

‘In hof verskyn op aanklag van poging tot moord ’

Scheepers het vlugtig in die landdroshof verskyn op ’n aanklag van poging tot moord. Sy regsverteenwoordigers het nog nie op OFM Nuus se navrae gereageer nie. 

Intussen sê brig. Sam Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, hulle het in geen verklarings gesê die verdagte het die persoon wat hy na bewering geskiet het vir ’n hond aangesien nie.

OFM Nuus het voorheen berig die departement van maatskaplike ontwikkeling het beweer die verdagte het gedink hy skiet op ’n hond.

Thembile Nqabeni, departementele woordvoerder, het gesê die departement sal maatskaplike werkers na die slagoffer stuur vir psigososiale ondersteuning.

Nqabeni kon nie naweek om kommentaar bereik word nie.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.