On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Lourierpark: Geen menswaardigheid vir slagoffers van onwettige grondgryp – DA

───   MARIETJIE GERICKE 08:48 Sun, 22 Dec 2024

Lourierpark: Geen menswaardigheid vir slagoffers van onwettige grondgryp – DA | News Article
Die Rooi Miere vroeër vanjaar besig met uitsettings in Lourierpark, Bloemfontein. Foto: Morgan Piek

“Mangaung-metro verleen nie in die stadium menswaardigheid aan die slagoffers van die onwettige grondgryp in Lourierpark nie,” sê Dave McKay, Vrystaatse DA-wetgewerlid.

Dit is ook nog nie duidelik wanneer die onwettige grondgrypers verskuif gaan word nie. Hy sê sedert Maart vanjaar staan daar nog 173 strukture van die onwettige grondgrypers en die mense is nog nie na permanente grond verskuif ingevolge 'n hofbevel nie. 

Die grond hiervoor is geïdentifiseer, maar niemand weet nog wanneer die proses vir verskuiwings gaan plaasvind nie. Dit is suidoos van Bloemfontein en daar is nog nie infrastruktuur soos water, sanitasie, paaie en elektrisiteit nie. McKay sê die grond  is waarskynlik naby die Grootvlei-gevangenis. 

Intussen lyk dit asof die onwettige grondgrypers rondskuif op die gebied oorkant Lourierpark waar hulle onwettige plak. In sommige gevalle vergroot hulle die strukture of bou aan. 

Hy sê dit sal ideaal wees as hulle nader aan mekaar bly totdat hulle verskuif word omdat die metro met vragmotors vir hulle water moet bring. Dit lyk ook of daar nou mense is wat nie voorheen daar gebly het nie. 

Dit beteken dat die vorige grondgrypers ander blyplek gehad het en nou die plakkershutte oorkant Lourierpark verhuur. “Dit sal nagegaan moet word, want as dit waar is, is dit onwettig en ontoelaatbaar."  

Die metro het ’n lys van die onwettige grondgrypers wat in Maart daar gebly het en wie se strukture al heeltemal opgeslaan was. Dit kan ingevolge ’n hofbevel nie nou verwyder word nie.

Daar was in Maart sowat 3 000 onwettige grondgrypers wat op die gebied toegesak het. Foto verskaf

Die Rooi Miere, ’n veiligheidsmaatskappy van Johannesburg, het hulle verwyder voordat hulle langer as 48 uur daar kon gebly het. Dit het die metro meer as R10 miljoen gekos vir die Rooi Miere en ander veiligheidsmaatskappye om te help en dit sluit nog nie die regskoste in nie.  

McKay sê daar mag geen nuwe sinkplate na die gebied gebring word om bestaande strukture te vergroot of om nuwes daar op te rig nie. Hy sê as aansoekers vir behuising eerder Hophuise gekry het op persele in en om Bloemfontein sou daar nie probleme ontstaan het wat aan onmenswaardigheid grens nie. 

Die metro het ’n agterstand van 15 000 titelaktes wat uitgedeel moes word en waar eienaarskap oorhandig moes word.

Daar is geen infrastruktuur waar die plakkershutte opgerig is nie. Foto verskaf

McKay is onlangs op sy skriftelike vrae in die wetgewer geantwoord dat die munisipaliteit die plaas X 2727 in Bloemfontein geïdentifiseer het. Dit is 128 ha en die grondbesetters kan daarheen verskuif word. Dit is groot genoeg vir 3 200 erwe van 300 m² elk. 

Die plaas is aan die suidoostekant van Bloemfontein en behoort aan die munisipaliteit. Dit is in 2014 deur die munisipaliteit aangekoop vir die doel om 'n begraafplaas te ontwikkel.

Die munisipaliteit is hier besig met ‘n proses vir dorpsbeplanning. 

  • Die plan vir die uitleg is reeds voltooi. 
  • Geometriese of grondstudies is gedoen. 
  • Die vloedlynstudies is voltooi. 
  • Ingenieurstudies is voltooi. 
  • Die omgewingsimpakstudie is 90% afgehandel.
  • Daar is nog besig met ’n elektrisiteitsverslag. 

Sodra al die prosesse voltooi is, sal die onwettige grondgrypers by Lourierpark verwyder word.

Daar is geen sanitasiegeriewe nie. Foto verskaf

Die metro maak gebruik van private en interne sekuriteit om te keer dat nog onwettige grondgrypers na die gebied by Lourierpark gaan en om seker te maak dat die metro vinniger kan optree as daar grondbesetting in en om Bloemfontein plaasvind.

McKay wou weet of opgetree gaan word teen Sanco, 'n burgerlike organisasie, om te keer dat hulle verder betrokke raak by die aanmoediging van onwettige grondgrype. Hy het ’n skriftelike antwoord gekry. 

“Sanco is 'n onafhanklike burgerlike organisasie wat buite die raamwerk van die staat of metro  bedryf word. Die metro beskou Sanco as deel van die gemeenskap se bondgenote en sal nie in sy sake inmeng behalwe as dit inbreuk maak op die regte en regulasies van die metro en die gemeenskap van Bloemfontein."

Daar bestaan kommer misdaad in die gebied gaan toeneem. Foto verskaf

McKay het ook dr. Lawrence Mathae gevra of daar opgetree gaan word teen die vyf ANC-raadslede wat na bewering agter die grondgrype by Lourierpark sit. Hy wou weet of daar strafregtelike teen hulle opgetree gaan word indien hulle wel betrokke was. 

Greg van Noord, DA-raadslid, sê inwoners van Lourierpark en omliggende gebiede is bekommerd dat misdaad sal toeneem. Hy sê die inwoners het hom ook laat weet dat Tiger Security nie meer daar is nie. Die maatskappy was veronderstel om die gebied dag en nag te beskerm. 

OFM Nuus/Marietjie Gericke dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.