On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Vier Noordwes-maatskappydirekteurs in howe oor belastingontduiking

───   MARIETJIE GERICKE 11:26 Sat, 21 Dec 2024

Vier Noordwes-maatskappydirekteurs in howe oor belastingontduiking | News Article
Foto: Canva

Vier maatskappye en hulle direkteurs sal weer volgende jaar in die hof moet verskyn nadat hulle vandeesweek op verskillende plekke in die Noordwes in die howe verskyn het oor vermeende belastingontduiking.

Dit kom nadat hard geslaan word met die Honey-Badger-projek, ’n rateltaaiprojek van die Nasionale Vervolgingsgesag, (NVG), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en die Valke, wat geen steen onaangeraak laat om vermeende belastingontduikers in die provinsie vas te trek nie.

In die  Potchefstroomse landdroshof is die saak Donderdag (19/12) uitgestel teen Albert John (83) na 4 Februarie 2025, om hom toe te laat om aandag te gee aan die problematiek rondom sy uitstaande belastingopgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). 

Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Foto: SARS.gov

Hy het tot dan kans om die belasting te betaal wat hy aan die SAID skuld of regstappe sal teen hom voortgaan, sê Sivenathi Gunya, kommunikasiebeampte van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes by navraag.

John het verskyn as die direkteur van A. John T/A Albert Vervoer, waar hy Donderdag  in die hof tereg gestaan het op 15 aanklagte van die oortreding van art. 234 (d) van die wet op belastingadministrasie, wet 28 van 2011, waar hy na bewering daarin gefaal het om belastingopgawes in te dien. 

Volgens die klagstaat het hy tussen Maart 2012 en Junie 2024, na bewering versuim om loonbelasting (PAYE) en belasting op toegevoegde waarde (BTW)-opgawes in te dien, ondanks ’n telefoniese aanmaning en die herinnering van die SAID op 1 April 2022 en daaropvolgende geskrewe kennisgewings om die belasting van sy maatskappy te betaal.

‘Die beskuldigde was afwesig tydens Dinsdag se hofverrigtinge’

Met die projek word gepoog om belastingbetaling te verbeter deur individue en entiteite vir belasting-versuim verantwoordbaar deur middel regstappe te hou, sê Gunya. Dit volg op twee ander sake vroeër vandeesweek in Noordwes.

Op Dinsdag (17/12) het die Mmabatho-landdroshof die saak teen Mariolene Trading BK, verteenwoordig deur Pieter Jacobus Scholtz, as die enigste aktiewe lid en die maatskappy se direkteur tot 10 Maart 2025 uitgestel sodat die beskuldigde in die hof kan verskyn. 

Die uitstel volg nadat die beskuldigde afwesig was tydens Dinsdag se hofverrigtinge vanweë onvoorsiene omstandighede wat gelei het tot die magtiging van ’n lasbrief vir sy in hegtenis name, maar dit is tot die volgende hofdatum opgeskort.

‘Hy het steeds versuim om opgawes in te dien’

Mariolene Trading staar 35 aanklagte van die oortreding van die wet op belastingadministrasie in die gesig oor die versuim om opgawes in te dien. Gunya sê uit ondersoeke blyk dit dat die beskuldigde tussen Maart 2019 en Mei 2024 nie opgawes vir sy maatskappy ingedien het nie.

Op 25 Januarie 2022 het die SAID hom telefonies daaraan herinner om die uitstaande opgawes names sy maatskappy in te dien. Daaropvolgende kommunikasie is ook aan Scholtz gestuur, maar hy het na bewering steeds versuim om opgawes in te dien.

In nog ’n saak wat Woensdag (18/12) in die Ventersdorp-landdroshof moes plaasvind, is ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van John Christopher Conroy (59), die direkteur van CJC Precast, uitgereik nadat hy versuim het om in die hof te verskyn. CJC Precast staar 65 aanklagte van die oortreding van die wet op belastingadministrasie in die gesig.

Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: npa.gov

Ondersoeke het aan die lig gebring dat Conroy tussen Februarie 2019 en Junie 2024 versuim het om sowel Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW), as Maatskappy-inkomstebelasting (CIT)-opgawes vir CJC Precast, in te dien.

Ondanks telefoniese aanmanings van die SAID, sowel as geskrewe kennisgewings, het Conroy glo steeds versuim om sy verpligtinge na te kom.

OFM Nuus/Marietjie Gericke mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.