Central SA
Laaste Swartruggens-ontsnapte steeds op vrye voet─── ZENANDE MPAME 15:32 Fri, 13 Dec 2024

Een van die vier verdagtes wat uit polisieaanhoudingselle in Noordwes ontsnap het, ontduik steeds die gereg.
Die derde ontsnapte is Woensdag (11/12) in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het dat die verdagte op ’n plaas in Swartruggens wegkruip. Hy verskyn Vrydag in die hof.
Mpho Madito (29), wat tereg staan op vier aanklagte van verkragting, en ’n ander verdagte (23) het Woensdag en Donderdag in dieselfde hof verskyn en bly in aanhouding.
“Ons het Woensdagaand inligting ontvang dat Madito op ’n plaas in die Swartruggens-omgewing wegkruip, en met die hulp van ’n plaaslike boer het ons hom in hegtenis geneem,” sê Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Polisie soek Thapelo Molebatsi (25) wat uit aanhouding ontsnap het. Foto verskaf
“Net een ontsnapte is nog op vrye voet, naamlik Thapelo Molebatsi (25), wat aangehou is vir diefstal op Swartruggens.”
Die mans het na bewering Sondag deur die dak van ’n aanhoudingsel uit die Swartruggens-polisiekantoor ontsnap. Een is later die dag weer in hegtenis geneem terwyl hy langs die N4 naby Swartruggens Plaza geloop het.
Die polisie het inligting ontvang dat Madito Dinsdagoggend ’n bus van Tlokweng na Rustenburg se middedorp gehaal het.
“Die sigbare polisiëring en die blitspatrollie het die bus by Boshoek opgespoor, en ’n deursoeking van die bus het gelei tot Madito se inhegtenisneming op aanklagte van ontsnapping uit wettige aanhouding en besit van vermoedelik gesteelde goedere,” sê Myburgh.
“Die polisie werk hard om die oorblywende ontsnapte op te spoor en weer in hegtenis te neem. ’n Ondersoek na die omstandighede wat tot die ontsnapping gelei het, duur voort.”
Enigeen met inligting kan die naaste polisiekantoor bel, Stop Misdaad by 0800 10111 of kapt. Peterson Monageng, ondersoekbeampte, by 082 569 5868.
Die nege koeie wat gesteel is. Foto verskaf
Intussen bly twee verdagtes in aanhouding nadat hulle Donderdag voorgekom het in die Vryburgse landdroshof vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Jacobus Venter (28) en Isaac Matebele (44) het die polisie gekontak en gerapporteer dat hulle in die moeilikheid is en op pad was na Stella.
“By aankoms het die polisie opgemerk dat die twee verdagtes ’n bakkie bestuur en ’n sleepwa vol nege beeste sleep,” sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“Die twee mans is agtervolg deur ’n groep van 50 mense in verskeie voertuie wat Venter en Matebele van veediefstal beskuldig het.”
Die groep is met die hulp van beamptes van die eenheid vir openbare orde uiteengejaag nadat hulle probeer het om die verdagtes se voertuig aan die brand te steek.
Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat die twee glo op drie verskillende geleenthede tussen Woensdag 20 November en Woensdag 4 Desember vee gesteel en op ’n veiling in Ottosdal verkoop het.