Central SA
Ikageng-polisie vra hulp om vermeende rower op te spoor─── MORNÉ VAN ROOYEN 17:03 Wed, 11 Dec 2024
Die polisie in Potchefstroom het ’n gesigsamestelling geskep van ’n vermeende rower, maar vra nou die publiek moet help om hom op te spoor en uit te ken.
Die klaer (27) was op 13 November omstreeks 20:30 besig om klante in ’n snoepwinkel in Mogolodistraat, Uitbreiding 7, Ikageng, te help toe twee mans, van wie een gewapen was, opdaag en geld eis, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
Hulle het die klaer beroof van kontant, ’n lugtydmasjien, selfoon en sigarette, waarna hulle op die vlug geslaan het.
Ikageng, Potchefstroom. Foto: Facebook/Tiisetso Mariti Maserati Uchiha
Die verdagte van wie die polisie ’n gesigsamestelling kon skep, het ’n donker gelaatskleur en donker oë. Hy is middelmatig lank en slank. Tydens die voorval het hy ’n swart of donkerblou sporthoed gedra, sê Myburgh.
Enigeen met inligting kan sers. George Phamudi van Ikageng se speurafdeling by 082 416 1015 of 018 294 1438 bel. Gebruik die MySAPS-app vir anonieme wenke of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Maak so tydens ’n rooftog
Almal wat hul voet by die deur uitsit, loop gevaar om vasgevang te raak in ’n gewapende rooftog. Dit beteken nie jy hoef ’n slagoffer te wees nie. Hier’s raad van Integrated Emergency Response:
Bly kalm
In ’n spanningsvolle situasie is ’n mens se eerste reaksie dikwels om vinnig en beslissend op te tree, maar paniek tydens ’n gewapende roof kan die situasie vererger. Dis lewensbelangrik om kalm te bly en die moontlike gevaar in ag te neem van die situasie waarin jy jou bevind.
Werk saam
Al is dit hoe moeilik, kan dit jou lewe red om te luister na wat die oortreders jou vra om te doen. Moenie met hulle stry of verseg om opdragte uit te voer nie. Jou besittings, soos ’n beursie, handsank, selfoon of horlosie, kan vervang word; dis nie ’n lewe werd nie.
Let goed op
Sodra die situasie verby is, moet jy die saak by die polisie aanmeld. Indien moontlik, let op na die rowers se voorkoms of kenmerkende gedrag wat kan help om hulle aan te keer. Kyk uit na littekens, hul lengte, die kleur van hul oë of enigiets wat hulle sal kan help identifiseer.
Moenie met mag reageer nie
Maak seker jy doen niks wat die rowers as ’n bedreiging kan beskou nie. Moet byvoorbeeld nie met hulle probeer worstel of geweld gebruik om hulle te stuit nie. In die ergste gevalle kan sulke uitdagende optrede lei tot beserings of sterftes.