,,,
On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams
,,,

Central SA

Bejaarde van Upington hof toe oor reusedaggavonds

───   MORNÉ VAN ROOYEN 16:38 Wed, 11 Dec 2024

Bejaarde van Upington hof toe oor reusedaggavonds | News Article
Die dagga was in ’n gat in die kombuis van die huis in Paballelo versteek. Foto: SAPD

’n Vermeende dwelmhandelaar van Upington kom Donderdag (12/12) voor in die plaaslike landdroshof nadat hy na bewering betrap is met R207 000 se dagga.

Die grenspolisie het Dinsdag ’n lasbrief vir visentering bekom ná ’n wenk dat dagga blykbaar geberg en verkoop word op ’n erf in Paballelo, sê sers. Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Tydens die soektog het beamptes afgekom op dagga met ’n geskatte straatwaarde van R207 000 wat in ’n gat onder die koelkas in die kombuis versteek was.

Hulle het beslag daarop gelê asook op kontant, wat na bewering deur smokkelary bekom is. ’n Bejaarde man (75) is in hegtenis geneem op aanklagte van dwelmhandel.

Die polisie het afgekom op ’n gat onder ’n koelkas waarin die dagga versteek is. Foto: SAPD

Die distrikspolisiebestuur loof die beamptes se volgehoue pogings om dwelmhandel te bestry en hul flinke reaksie op die wenk.

“Die polisie in die ZFM-distrik sal hul pogings verskerp om dwelmhandel uit te roei en sal hierdie feestyd die wêreld warm maak vir dwelmhandelaars,” sê Masegela.

Die dagga se waarde is oor die R200 000. Foto: SAPD

Oorkant die grens in Noordwes is ’n Potchefstromer uit op borgtog van R20 000 nadat die polisie toegeslaan het op ’n dagga-laboratorium en plante met ’n geraamde waarde van R10 miljoen.

Michael Cilliers (29) se eerste hofverskyning was op 19 November, waar hy tereggestaan het op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en plofstof, asook die verbouing en handel in dagga.

Die polisie se dwelmtaakspan en die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid het op 14 November ’n deursoekingslasbrief verkry om ’n kleinhoewe in die Vyfhoek-omgewing, naby Potchefstroom, te ondersoek. ’n Sekuriteitsmaatskappy het hulle tydens die operasie vergesel.

Michael Cilliers kom weer in Maart voor.

Tydens die soektog het beamptes afgekom op vuurwapens, ploftoestelle – insluitend handgranate en pypbomme – en ’n hidroponiese daggalaboratorium.

Cilliers moet weer 25 Maart in die hof verskyn.

Die polisie herinner die publiek daaraan om misdaad anoniem aan te meld by Stop Misdaad by 08600 10111 of met die MySAPS-app.

OFM Nuus/Morné van Rooyen mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.