On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ngwathe by MRK verkla oor Parys se krag, water

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:28 Wed, 11 Dec 2024

Ngwathe by MRK verkla oor Parys se krag, water | News Article
Die watersituasie in Parys. Foto: AfriForum

Die Menseregtekommissie lewer na verwagting vroeg volgende jaar uitspraak nadat ’n klagte ingedien is oor gebrekkige dienslewering op Parys.

Parysenaars ly deurentyd weens swak dienslewering, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder. Dit lei tot ernstige probleme, soos onlangs toe die inwoners tydens ’n hittegolf sonder krag en water moes sien kom klaar.

“AfriForum het Dinsdag (10/12) ’n klag by die MRK ingedien oor hierdie en ander ernstige menseregteskendings en verlede week ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien waarin ons ingryping op grond van artikel 139 van die Grondwet versoek.”

‘Wanneer water beskikbaar is, is dit bruin en onveilig vir verbruik’

Volgens Pretorius kan ’n provinsiale uitvoerende gesag ingryp wanneer ’n munisipaliteit, soos Ngwathe, versuim om sy pligte na te kom, en die plaaslike owerheid onder administrasie plaas.

“Ondanks die dreigende bedreiging van provinsiale ingryping, vererger toestande op Parys steeds,” vertel Pretorius. “Inwoners was sonder water tydens ’n erge hittegolf, en wanneer water beskikbaar is, is dit bruin en onveilig vir verbruik.

“Om sake te vererger, was daar aansienlike probleme met elektrisiteitsvoorsiening as gevolg van gevandaliseerde substasies.”

Die water in Parys se krane. Foto: Timeslive

Pretorius skryf die haglike situasie toe aan munisipale amptenare wat nie bereid is om aan oplossings vir die probleme te werk nie. “Kundiges word toegang tot die watersuiweringswerke geweier. Selfs raadslede word nie toegelaat nie.”

Sy sê AfriForum het vroeër vanjaar ’n ooreenkoms gesluit, wat deur ’n hofbevel bevestig is, waarvolgens die burgerregteorganisasie enige tyd toegang tot die aanlegte mag verkry. “Nou word die broodnodige kundigheid en vaardighede wat AfriForum bied, weggehou.”

AfriForum ontvang ook geen kommunikasie oor die stand van sake vanaf die munisipale bestuurder nie. “Daar is ook eens op ’n tyd ooreengekom dat die munisipaliteit gereelde vergaderings met belanghebbendes sou hou, maar dit is skynbaar ook nou iets van die verlede,” sê Pretorius.

Die water in Parys. Foto: AfriForum

Volgens Pretorius veg Parysenaars om oorlewing. “Water is ’n basiese mensereg; tog word die mense van hierdie dorp daarvan ontneem. AfriForum bied gereeld bystand, maar ons aanbiedinge word voortdurend afgekeur.”

Die verhouding tussen die organisasie en die munisipaliteit was tot nou toe positief, sê Schalk Burger, AfriForum-takvoorsitter.

Lees ook: Parys water lab to be unveiled and handed over to FS municipality

“AfriForum se insette word heeltemal geïgnoreer, al lê die groot kwessie in die lekkasies wat nie (aandag kry) nie weens swak munisipale bestuur.

“Die situasie word verder vererger deur die voortdurende hertoewysing van amptenare en die aanstelling van onbevoegde individue,” sê Burger.

AfriForum het in sy hofaansoek daarop gewys dat die munisipaliteit nie daarin slaag om sy administrasie-, begrotings- en beplanningsprosesse behoorlik te struktureer en te bestuur nie, wat weer gelei het tot sy onvermoë om volhoubare dienste aan die gemeenskap te lewer.

Die water in Parys. Foto: AfriForum

“Gevolglik het die burgerregte-organisasie toestemming gevra om te help met die bestuur van die water- en rioolwerke, onder andere verantwoordelikhede.”

Corné Cronjé, AfriForum se gemeenskapstruktuurbestuurder sê: “Dit is nou die tyd vir die vierde regeringsfeer om aksie te neem en vir kundige gemeenskapslede om in te tree om dienslewering in die munisipaliteit te verbeter.”

Om nog druk op die munisipaliteit te plaas om volhoubaar dienslewering te lewer, moedig AfriForum inwoners aan om ’n klagte by die MRK aanhangig te maak oor die huidige stand van sake. Besoek AfriForum se webtuiste om ’n klagte in te dien.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.