Central SA
Noord-Kaapse gesin ly ná ongeluk wat pa eis─── KAREN VAN DER BERG 06:30 Tue, 10 Dec 2024
Wat veronderstel was om ’n jaar vol vreugde en opwinding te wees vir ’n gesin van Grootdrink, naby Upington, het in ’n tragedie ontaard.
Karin Otto en haar gesin se lewe is tot stilstand geruk. Hulle voer nou ’n bestaanstryd. Haar man, Cyril, hulle twee seuns, Ethan (11) en Keanan (12), en ’n vriend was op 11 Oktober op pag terug Grootdrink toe.
Karin sê ’n band het gebars en die gesin se voertuig het teen ’n boom gebots. Daar was ook ’n klomp goedere in die voertuig, soos gasbottels en bande. “Ethan het gelukkig nie seergekry nie. Maar Cyril is in die ongeluk dood en Keanan het ernstige beserings opgedoen.”
Keanan is op die ongelukstoneel gestabiliseer en toe in die hoësorgeenheid van die Dr. Harry Surtie-hospitaal op Upington opgeneem.
“Sy skedel het op drie plekke frakture gehad, daar was bloeding op sy brein en hy het breinbeserings opgedoen,” vertel sy ma. Hy moes ook twee keer bloedoortappings kry en het sy hand gebreek.
Die ongeluk en die gevolge daarvan het Karin en haar gesin onmiddellik in geldelike nood gedompel. Cyril was die gesin se broodwinner en daar is nou skielik uitgawes wat nie vroeër daar was nie.
Karin het nog twee kinders, Cay-Leigh (8) en Jeanessa ( 5).
‘Keanan het fisioterapie en arbeidsterapie nodig’
“Daar moet nou dringend nuwe huisvesting gevind word. En daar moet ook planne gemaak word om skoolgeld vir die kinders vir aanstaande jaar te kry.”
Die mediese rekeninge hoop intussen op omdat Keanan se ernstige beserings van so aard is dat hy fisioterapie en arbeidsterapie nodig het. “Hy is nog bedlêend en kan niks op sy eie doen nie.”
Karin sê hulle is wel dankbaar dat hy al woorde kan sê en kan begin om op sy sy te rol. Sy sal eers kan begin werk wanneer hy in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem kan word of tuisversorging kan kry.
Sy sê intussen kry die gesin swaar. “Ons probeer maar op ons eie aangaan. Dis emosioneel en ek sukkel om die werklikheid van die situasie te aanvaar. Ek bly sterk vir die kinders en dink nie baie aan my eie emosies nie.”
Die mense van die omgewing is baie goed vir hulle en bied ondersteuning.