Central SA
Rouxville-plaasmoord: Vier verdagtes volgende jaar weer in hof─── HEIDRÈ MALGAS 12:04 Wed, 18 Dec 2024
Vier verdagtes wat tereg staan op verskeie aanklagte insluitend huisbraak, moord en verkragting ná ’n plaasaanval in die Suid-Vrystaat, doen na verwagting vroeg volgende jaar aansoek om borg in Rouxville se landdroshof.
Die drie vroue en een man het weer Dinsdag (17/12) voor die plaaslike landdroshof verskyn, toe die saak tot 13 Januarie uitgestel vir die verdagtes se borgaansoek.
’n Boer het sy lewe verloor en sy vrou is ontvoer op 7 Desember tydens ’n plaasaanval in die omgewing van Goedemoed in die Suidoos-Vrystaat.
Vier verdagtes het Dinsdagmiddag vlugtig voorgekom in die Rouxville-landdroshof nadat die boer Saterdag in omgewing van Goedemoed in die Suidoos-Vrystaat noodlottig in die kop geskiet is. Foto: Heidrè Malgas
Die identiteit van die vier verdagtes kan eers bekendgemaak word nadat hulle gepleit het op die aanklagte van verkragting.
Hulle word aangekla van moord, verkragting, huisbraak en besit van gesteelde items, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Een van die verdagtes het twee aanklagtes van moord teen haar.
Die ander aanklag van moord teen dié vrou (21) is na aanleiding van die moord op haar susterskind (2). Sy het erken dat sy saam met haar kêrel (28), wat ook by die plaasmoord betrokke was en later in ’n skietery met die polisie gesterf het, die tweejarige dieselfde naweek gemartel en vermoor het; daarom staan sy tereg op twee aanklagtes van moord.
‘Hulle het die kind bewusteloos agtergelaat
Sy het onthul dat sy en haar kêrel die kind Vrydag (6/12) van Reddersburg na Goedemoed geneem het. Onderweg het die kêrel volgens haar erkentenis die kind herhaaldelik aangerand en hom geskop.
Die verdagtes het daarna hul reis voortgesit, terwyl hulle die kind bewusteloos agtergelaat het.
Die boer (52) is Saterdag (7/12) in die kop geskiet, maar sy vrou (45) is ontvoer en later gered. Sy is op ’n angsvolle reis deur verskeie dorpe geneem, terwyl die verdagtes haar na bewerig gedwing het om geld by talle OTM’s te onttrek.