On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein-dieretuin bly Kersfees gesluit

───   ZENANDE MPAME 14:06 Wed, 18 Dec 2024

Bloemfontein-dieretuin bly Kersfees gesluit | News Article
Bloemfontein se dieretuin bly Kersfees gesluit. Foto: Facebook/Destea

Bloemfonteiners sal nie hierdie Kersfees die plaaslike dieretuin kan besoek nie, aangesien dit steeds gesluit bly ná ’n bevel van die Vrystaatse hooggeregshof.

Die hof het beslis die dieretuin mag nie oopmaak tensy dit aan sekere voorwaardes voldoen nie, en dat die metro nie enige wilde of eksotiese diere mag ontvang sonder die nodige permitte nie.

“Die dieretuin is en bly gesluit. Ons het ’n finale vergadering met die betrokke strukture gehou, en hulle het bevestig dat die dieretuin gesluit sal bly,” sê Jacques Peacock, skakelbeampte van die Nasionale Raad van die DBV’s.

“Eerlikwaar dink ek Destea (die departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake) is vasgevang tussen die duiwel en die diep blou see weens die hofbevel wat ons bekom het. Of dit moontlik is om die dieretuin oop te maak, is ’n ope vraag.”


Die DBV streef na ’n wêreld waar diere hul natuurlike gedrag in hul mees natuurlike omgewing kan uitleef, sê hy.

In September het die hooggeregshof beslis dat die dieretuin verbied word om enige bedreigde of beskermde diere te ontvang tensy permitte ingevolge die regulasies vir Bedreigde of Beskermde Spesies uitgereik is. Die hofbevel stel ook dat die dieretuin nie heropen mag word nie tensy daar ’n behoorlike begroting is om dit wettig en volhoubaar te bestuur.

Die dieretuin is in 2019 gesluit ná klagtes van die publiek oor die versorging van die diere. Foto’s van die dieretuin is wyd op sosiale media versprei. In Desember 2022 het AfriForum stappe gedoen om te verseker dat haweloses nie die dieretuin beset nie.

OFM Nuus het voorheen berig burgemeester Gregory Nthatisi het gesê: “Ons mense het daardie dieretuin nodig. Gebiede naby Mangaung is afhanklik van daardie dieretuin. Ons kinders en gesinne leer daar oor ekostelsels, die diereryk en ander verwante aspekte van die lewe.”

Peacock sê hulle is steeds dankbaar vir die hooggeregshof se beslissing en noem dit “nog ’n belangrike stap om wreedheid teenoor diere te voorkom. Kyk ’n mens na die toestand van die Bloemfontein-dieretuin, is ons bly die metro het tot sy sinne gekom.

“Ons is vasbeslote dat Destea geen permitte te goeder trou kan uitreik tensy daar beduidende veranderinge by die dieretuin aangebring word nie.”

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.