On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Twee Noordwes-matrieks steeds in hospitaal ná ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:03 Wed, 04 Dec 2024

Twee Noordwes-matrieks steeds in hospitaal ná ongeluk | News Article
Janco Snyman, Mia-Lee Greyling en Janel Payne. Foto verskaf

Twee van die drie Noordwes-matrieks wat die naweek in ’n motorongeluk beseer is, is steeds in die hospitaal.

Hartswater se polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n meisie (17) en ’n seun (10) wat in die ander voertuig was, gesterf het, sê kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Die ongeluk het Maandag (2/12) omstreeks 01:30 op die N18 buite Hartswater in die Noord-Kaap gebeur. Die bestuurder van ’n voertuig wat uit Pampierstad se rigting gery het, het na bewering nie by ’n T-aansluiting gestop nie en gebots met die bakkie waarin die matrieks op pad na Jan Kempdorp was.

Janel Payne het haar nek en kakebeen beseer. Foto verskaf

“Die bestuurder (29) van die voertuig het ernstige beserings opgedoen en die twee kinders is op slag dood.”

Janco Snyman, Mia-Lee Greyling en Janel Payne (almal 18), leerders aan die Hoërskool Schweizer-Reneke, is na die MediClinic Gariep in Kimberley gehaas vir behandeling.

Colette Greyling, Mia-Lee se ma, sê onder die omstandighede gaan dit goed met die drie leerders. “Mia-Lee is reeds uit die hospitaal ontslaan. Sy het ’n paar kneusplekke en is baie emosioneel. Janel en Janco is steeds in die hospitaal.”

Mia-Lee Greyling is reeds ontslaan. Foto verskaf

Janel, wat in ’n gewone saal is, het ’n nekbesering opgedoen, vertel Greyling. “Niks in haar nek het geskuif nie, wat beteken dat geen operasie nodig is nie. Sy moet wel vir die volgende drie weke ’n nekstut dra en sy het ook ’n gebreekte kakebeen.”

Janco, wat in die waakeenheid is, is Dinsdag (3/12) geopereer nadat sy oogbank in die ongeluk vergruis is.

Janco Snyman is steeds in die intensiewesorgeenheid. Foto verskaf

“Ons is ongelooflik dankbaar dat al drie kinders die ongeluk oorleef het, en as jy die video van die ongeluk in stadige aksie kyk, kan jy sien hoe engele hulle beskerm het,” sê Greyling.

Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.