On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

International

Mosambiek-geweld: Samesprekings moontlik; slagoffers gegroet

───   05:33 Sat, 23 Nov 2024

Mosambiek-geweld: Samesprekings moontlik; slagoffers gegroet | News Article
Burgers probeer vlug terwyl die polisie glo aanhou skiet. Foto: @Verdade/globalvoices.org

Die opposisiepartyleier in Mosambiek se presidensiële verkiesing het die huidige president se aanbod aanvaar om by samesprekings met hom en drie ander kandidate aan te sluit.

Venancio Mondlane het president Filipe Nyusi se aanbod aanvaar in die hoop om weke se verkiesingsgeweld te beëindig waarin minstens 40 mense in die suidooste gesterf het.

Mondlane het op sy Facebook-blad gesê hy het die uitnodiging na samesprekings aanvaar en dat hy Saterdag (23/11) sy agendavoorstelle sal indien vir die vergadering wat moontlik Dinsdag (26/11) sal plaasvind. Daar was geen aanduiding of die ander kandidate op Nyusi se oproep gereageer het nie.

Nyusi beplan om sy amp in Januarie aan Frelimo se nuwe presidensiële kandidaat, Daniel Chapo, te oorhandig indien die Grondwetlike Raad die verkiesingsuitslae bevestig. Hy het egter samesprekings tussen Mondlane en Chapo voorgestel, asook twee ander presidensiële kandidate, Ossufo Momade van Renamo en Lutero Simango van die Demokratiese Party, berig VOE News.

Verskeie onlangse sterftes beklemtoon die wisselvallige politieke klimaat in Mosambiek sedert die Frelimo-party, wat 49 jaar aan bewind was, klaarblyklik met 71% van die stemme op 24 Oktober 2024 as die wenner van die nasionale verkiesing verklaar is.

In die krisisgeteisterde Maputo, het jong roubeklaers en familie vandeesweek afskeid geneem van Antonio Juaqim (16), wat tydens ’n betoging teen die presidensiële verkiesingsuitslae op Donderdag (15/11) doodgeskiet is. Sy oom, Manuel Samuel, het vertel hoe hy CCTV-beeldmateriaal gesien het van die polisie wat op betogers skiet. 

Die meeste betogings het sedertdien binnenshuis beweeg nadat polisiegeweld ook tot ander sterftes gelei het.


Nadat die uitslae op 24 Oktober bekend gemaak is, was Chapo vasbeslote dat hy en sy party ’n vrye en regverdige stryd gewen het. Opposisiekandidaat Mondlane, wat landuit gevlug het, het egter beweer bedrog is met die verkiesingsuitslae gepleeg. 

Hy het sy ondersteuners versoek om uit protes elke aand teen 21:00 potte en panne teen mekaar te slaan, berig die BBC.

Chapo handhaaf sedertdien ’n besonder lae profiel in afwagting op die howe se beslissing oor Mondlane se aansoek om die verkiesingsuitslae nietig te verklaar.

In ’n oënskynlike poging om die druk voor die uitspraak vol te hou, het baie van Mondlane se ondersteuners ook ag geslaan op sy versoek om drie dae (20 tot 22 November) te rou oor die slagoffers deur hul voertuie om 12:00 smiddae te stop en hul toeters te druk. Om 13:00 elke dag word inwoners glo versoek om die land se stem te sing en só eer aan die slagoffers te betoon.

Human Rights Watch berig sowat 40 mense, insluitend tien kinders, is tydens die betogings deur die polisie vermoor. 

Polisiebevelvoerder Bernadino Raphael het simpatie uitgespreek, maar het Mondlane se ondersteuners daarvan beskuldig dat hulle kinders as skilde gebruik tydens die aanhitsing van geweld, wat daartoe gelei het dat die polisie hulself moes verdedig.

‘Gewildheid onder jongmense taan’

Albino Forquilha, leier van die Optimisteparty, het die polisie van oormatige geweld beskuldig om die regerende party te beskerm. Politieke ontleder Borges Nhamirre het opgemerk dat dit die eerste keer is dat Mosambiek sulke sterfgevalle en eiendomsbeskadiging tydens betogings sien, wat dui daarop dat Frelimo se gewildheid onder jongmense begin taan. Hulle eis nou finansiële onafhanklikheid.

Mondlane se ondersteuners gaan voort om te betoog en die sterftes te betreur, in die hoop op geregtigheid tydens een van Mosambiek se mees onstuimige tydperke sedert die koms van veelparty-demokrasie 30 jaar gelede.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.