Central SA
Hartbeespoort spog met Afrika se hoogste Kersboom─── ZENANDE MPAME 16:11 Wed, 04 Dec 2024
Suid-Afrika en Afrika se hoogste Kersboom sorg weer dié feestyd vir verwondering by die hoofkantoor van ’n masjinerie-en-onderdelevervaardiger op Hartbeespoort in Noordwes.
Die sogenaamde Baken van Hoop reik 45 m na bo, net 12 m korter as die land se hoogste kerktoring, dié van die Toringkerk in die Paarl. Dis versier met 6 km se kragkabels meer as 40 000 LED-lampies laat flikker. Verlede jaar was die boom 38 m hoog, toe die stringe ligte 5 km lank was.
Johan Ingram, uitvoerende hoof van die firma GST, was omring van amper 200 werknemers, hul geliefdes en kinders van twee stigters toe die liggies Sondag (1/12) aangeskakel is.
“Dit voel absoluut wonderlik om hierdie ongelooflike boom twee jaar agtereenvolgens te kon bou,” sê Walter Gähler, GST se bemarkingshoof. “Dit vul ons hart met soveel opgewondenheid en hoop wanneer ons sien hoe mense die mooi die eerste keer sien hoor hoe die kindertjies skree: ‘Kyk net daar!’
“Dit is werklik ’n ongelooflike gesig om te aanskou. Die boom is ook gebou om ander in ander lande te inspireer, so ons kan nie wag om te sien watter skeppings hulle kan maak nie.”
Besoekers word genooi om dit self te kom sien. Hoewel hulle nie toegelaat word op die firma se perseel nie, kan die boom die beste vanaf die pad besigtig word, sê hy. “Wanneer jy dus op die draai op die pad staan, sal jy die perfekte uitsig op die boom hê.”
GST se Baken van Hoop het kreatiwiteit en hoop in ander laat ontvlam, wat gelei het tot die skepping van die Baken van Lig op Thabazimbi en die Baken van Vreugde in Nigerië.
Die boom is ook gebou om ander lande te inspireer. Foto: Walter Gähler
Gevra oor kragonderbrekings wat die boom beïnvloed, sê Gähler: “Krag is nie ’n probleem vir ons nie. Ons het ’n volledige sonkragstelsel en batteryrugsteun-kragstelsel wat ons maatskappy van krag voorsien.”
Reik na die sterre
Dit verseker dat die boom altyd helder skyn. Indien nodig, het hulle wel ’n kragopwekker wat die boom van krag kan voorsien as die batterystelsel nie beskikbaar is nie.”
Hy vertel hulle het besluit om die boom hoër te maak om selfs meer hoop en lig aan Suid-Afrikaners te bring. “Ons het na die sterre gereik en mik om selfs meer mense dié Kerstyd te inspireer.”